Landbouweekblad se nuutste handelsmerkuitbreiding, Vra die Veearts – die A tot Z van honde en katte, gaan Woensdagoggend op die Expresso-ontbytprogram op SABC 3 bemark word.
Vra die Veearts – die A tot Z van honde en katte is ’n interessante en nuttige handleiding met antwoorde op verskeie vrae waaroor troeteldiereinaars gereeld wonder. Die boek bevat meer as 100 kleurfoto’s asook ’n aantal sketse in ’n gerieflike A5-formaat.
Boonop word ’n DVD met illustrasies van meer as 130 honde- en meer as 70 katrasse saam met die boek versprei.
Die boek is as ’n handelsmerkuitbreiding vir Landbouweekblad en landbou.com saamgestel – met die medewerking van drs. Sunelle Strydom en Faffa Malan. Benewens Strydom en Malan was daar 14 ander skrywers.
Strydom gaan Woensdag (14 Maart 2012) op Expresso verskyn en gaan onder meer praat oor van die onderwerpe wat in die boek bespreek word. Dit sal insluit hoe om klein hondjies goeie huismaniere te leer, die vier basiese bevele wat ’n mens moet gebruik om honde op te lei en meer inligting oor hoe honde leer.
Die personeel van Expresso het ’n spesiale belangstelling in troeteldiere aangesien die program vir Bob het, ’n oulike Franse bulhond, wat gereeld op die stel kuier. Bob sal teenwoordig wees tydens dié opname. Daar sal ook vyf boeke weggegee word tydens die insetsel.
Skakel Woensdag (13 Maart 2012) tussen 6:00 en 7:00 op SABC 3 in om na die insetsel te kyk.
Bob is 'n gewilde (en oulike!) lid van die Expresso-span. Foto: VERSKAF
13 Maart 2012