
Tydens die kwartaallikse vergadering van die Wes-Kaapse interministeriële komitee vir landelike veiligheid, wat op 6 Julie by Elsenburg gehou is, is vordering met die integrering van stelsels om tegnologie, steun en erkenning vir buurt- en plaaswagte bespreek.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê 174 nuwe buurt- en plaaswagte het hul akkreditasie ontvang. Daar is nou 498 buurt- en plaaswagte in die provinsie. Veiligheidsvennote, onder meer die provinsiale en distriksrampbestuursentrums, private sekerheidsverenigings en die georganiseerde landbou, is ook aktief by die bevordering van landelike veiligheid betrokke.
“Die Wes-Kaap sit skouer aan die wiel om die provinsiale landelike veiligheidsplan toe te pas. Die vereis vennootskappe tussen die regering, die polisie, buurt- en plaaswagte, die private sektor en ander strukture wat ons landelike gemeenskappe veiliger kan maak.”
Volgens hom is die Wes-Kaap die enigste provinsie wat ’n provinsiale landelike veiligheidsplan het en al ’n beraad oor landelike veiligheid aangebied het. Dié plan word deur die Wes-Kaapse departement van landbou met die Wes-Kaapse departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid se steun ontwikkel.
Mnr. Reagan Allen, Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, sê die nodige stelsels bestaan om te verseker dat reg en geregtigheid geskied wat plaasaanvalle en -moorde betref. “Landelike gemeenskappe sal nooit as die Wes-Kaapse regering se stiefkind beskou word nie. Daarom werk ons so nou met die Wes-Kaapse departement van landbou saam.”
Allen sê daar is bevind dat namate misdaad in een gebied hokgeslaan word, dit na ’n ander skuif. Dit is volgens hom veral die geval in landelike gebiede. “Tans is 47% van die sogenoemde dwelmhuise buite die Kaapse metropool. Ons het inligting ontvang dat dwelmhandelaars, wat hulself in die polisie se kollig bevind, landelike gemeenskappe hul nuwe tuiste maak.
“Misdadigers moet oral in ons provinsie ongemaklik voel. Ons versoek ons landelike gemeenskappe om saam met ons te veg teen diegene wat misdade wil pleeg.”
Allen sê sy departement se doel is om die Wes-Kaap se huidige moordsyfer teen 2029 te halveer.
Suksesse én tekortkominge bespreek
Van der Westhuijzen sê Agri Wes-Kaap glo Meyer en Allen sal beslis ’n verskil in die veiligheid van landelike gebiede kan maak. Dit is ook verblydend dat daar op die vergadering nie geskroom is om tekortkominge saam met die suksesse te bespreek nie. “Dit wat ons gehoor en gesien het, asook die personeel rondom die tafel se opbouende houding teenoor hierdie aangeleentheid, maak ons beslis opgewonde.
“Die projekte wat reeds aan die gang is, lewer resultate, maar het nog ’n pad om te stap. Hierdie projekte, tesame met nuwe inisiatiewe, soos om te kyk na die rondslomp met die registrasie van plaaswagte, sal gemeenskappe se veerkragtigheid steun en landelike veiligheid verbeter.
“Ons weet daar is nog aansienlike kwessies en suksesse word nie so maklik weerspieël waar die tekkie die teerpad, of eerder stofpad met die landbou, tref nie, maar ons glo ’n sterk fondasie is gelê waarop met trots voortgebou kan word.”