
Die
Paardebergse wynplaas Landskroon, waar die De Villiers-familie al vyf geslagte
lank wynmaak, se Facebook-blad het in Desember soos mis voor die son
verdwyn. Van hul herhaaldelike pogings om dit te probeer terugkry, het
daar dadels gekom.
Landskroon het sowat 28 000 volgelinge op Facebook gehad.
Luidens ’n verklaring was dit ’n “groot terugslag” vir die onderneming.
“Maar ons span is vasbeslote, nes ons kollegas in die wynbedryf die afgelope maande onder moeilike omstandighede (weens handelsregulasies as gevolg van covid-19) moes wees.”
Die plaas het pas ’n nuwe Facebook-bladsy geskep (facebook.com/LandskroonWines) en mense aangemoedig om te help om weer die blad op die been te bring.
“Deel asseblief jul liefde vir ons wyne met ander.”
Die kelder deel gewoonlik nuus oor die landgoed op dié bladsye. Hulle hoop om weer die aantal volgelinge te kry wat hulle voorheen gehad het.