
Só sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, oor die beoogde landswye staking wat vandag deur verskeie vakbonde aangevoer sal word. Die optog is deur die vakverbonde Cosatu en Saftu, en ses ondersteunende aktivistegroepe georganiseer.
“Die bestaande beleidsomgewing van die ANC skep nie vertroue om voldoende beleggings te kry nie en dit is die beginpunt van ekonomiese groei.”
Hy sê werkloosheid styg jaarliks en Cosatu, een van die voorlopers van die staking, moet eerder met sy bondgenoot (ANC) in gesprek tree oor sy beleidsomgewing.
Volgens mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, het die organisasie kennisgewings aan al sy affiliasies gestuur om hulle in te lig oor die beoogde stakings.
“Wat ons wel opmerk, is dat die stakings meestal beoog word in stede en na ons verwagting sal daar nie ’n massiewe ondersteuning en opkoms wees nie.”
Van der Rheede sê Suid-Afrikaanse landsburgers is al moeg vir stakings en sal eerder wil sien dat daar werkbare planne van die regering kom om die ekonomiese probleme soos werkloosheid aan te pak.
“Mense begin besef dat stakings nie die antwoord is nie en dat stakings net hul probleme vererger. Die landbousektor is voorbereid en neem kennis daarvan.”
Wees voorbereid
“Optogte sal plaasvind in verskeie hoofsentra, maar daar is sterk aanduidings dat die platteland ook in die spervuur gaan wees,” sê TLU SA in ’n kennisgewing aan sy lede.
“Optredes kan dan nie beperk wees tot optogte in hoofsentra nie, maar kan uitkring tot ander gebiede met moontlike gewelddadige optrede deur opportuniste. Daar is aanduidings dat paaie en toegangsroetes geraak gaan word en intimidasie is nie uitgesluit nie.”
Hy waarsku dat sekere vakbonde toestemming gehad het om gisteraand met hul aktiwiteite te begin. Daar was reeds aanduidings van intimidasie van werkers wat werk toe wil gaan.
“Die verlede het bewys dat sodanige beplanning en optredes baie maklik en vinnig in ’n kruitvat kan ontaard.”
TLU SA waarsku boere om eerder voorkomend op te tree vir hul eie veiligheid. Boere word aangeraai om nie onnodige kanse te waag nie weens die onvoorspelbaarheid van die situasie.
- Werk van die huis af as dit enigsins moontlik is.
- Probeer om nie gebiede binne te gaan waar optogte gaan plaasvind nie. Vermy risikogebiede. Dit is ’n goeie opsie om eerder nie op die paaie te wees nie.
- Draai om as verdagte optrede waargeneem word.
- Vermy inkopiesentrums.
- Sien toe dat jy op hoogte bly van gebeure en skakel in by jou plaaslike veiligheidstruktuur.
- Gebruik alternatiewe roetes indien jy wel moet reis.
- Wees waaksaam en paraat. Skerp jou eie veiligheid op.
- Maak seker dat jou “dashcam” en “bodycam” gelaai en in werkende toestand is.
- Wanneer die SA Polisiediens gemeenskapstrukture vra om in ’n ondersteunende rol te help, word aanbeveel dat die versoek op die een of ander wyse gedokumenteer word.
- Hou veiligheidsgroepe dop vir rapporterings.
- Maak voorsiening vir brandbestryding (plase/eiendom).