
Dit kan die land se damme tot vyf jaar neem om beduidend van die droogte te herstel, sê die Kabinet in ’n verklaring na sy tweeweeklikse vergadering. Die droogte, wat voortgebring is deur die laagste reënval in 114 jaar, het meegebring dat die land se damvlakke na gemiddeld 48,6% verlaag het. Dieselfde tyd verlede jaar was die vlakke by 66,6% gemeet.
“Ons is steeds in ’n baie neutrale situasie en ons kan verwag dat die herstelperiode nog langer sal wees. Dit kan ten minste twee tot drie jaar neem om beduidende herstel van die damkapasiteit te sien en dit kan selfs vyf jaar wees. Ons het nog ’n lang pad na herstel.”
Pogings sal aangewend word om die Vaaldam op 25% te hou deur water van die Sterkfonteindam oor te plaas. Hierdie stap is nodig om te verseker dat die werkverrigtinge van Eskom, Randwater en Sasol voortgaan.
Die Vaaldam staan nou op 26.4%. Vanaf 7 November sal 190 miljoen kubieke meter water vir 54 dae aan die Vaaldam vrygestel word. Dit sal meebring dat die Sterkfonteindam, wat op 91,5% staan, met 7% sal daal.
Beperkings
Die Vaalrivierstelsel, wat uit 14 damme bestaan en water aan Gauteng lewer, staan tans op 49,1% in vergelyking met 67,9% dieselfde tyd verlede jaar. Die stelsel voorsien ook water vir Eskom se steenkoolgedrewe kragstasies, Sasol, besproeiing, myne en bedrywe in Oos-Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap. Dié rivierstelsel voorsien sowat 45% van die land se ekonomie en 35% van die bevolking.
Luidens die verklaring is dit die derde week wat die rivierstelsel onder 50% gedurende die droogtetydperk is. Die Katsedam is slegs 38.4% en die Grootdraaidam is 66.3% vol. Verpligte beperkings van 15% vir stedelike gebruik en 20% vir besproeiing is sedert 12 Augustus van krag.
Die Kabinet dui aan dat ’n tegniese taakspan op die been gebring is om die toepassing van die beperkings te monitor. Die teiken is om Randwater se daaglikse voorsiening met 687 miljoen liters te verminder.
Die Kabinet doen ’n beroep op alle landsburgers om water doeltreffend te gebruik en gehoor te gee aan die beperkinge wat van krag is.