’n Lang pad blyk nog voor te lê voor mikpunte vir die handves vir swart bemagtiging in die landbou (AgriSEB) gewettig sal word.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye wil hê dat die handves ooreenkomstig artikel 9 van die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging op ’n breë grondslag ingestel word, waarna ondernemings verplig sal wees om dit na te kom.
Mnr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, het tydens die openbare verhoor oor die handves aangedui dat hy nie veel hoop het dat vordering gemaak sal word as die voorstelle waarop ooreengekom is, nie nagekom word nie.
Die AgriSEB-raamwerk is in 2004 van stapel gestuur en na ’n proses van konsultasie en verwerking van die dokument met belanghebbendes is die handves in Maart 2008 aangekondig. ’n Raad is aangestel om onder meer sektorale kodes vir AgriSEB op te stel en die toepassing van die handves te monitor.
Die groot kwessie nou op die tafel is of ’n plafon ingestel moet word om sommige boere van die kode uit te sluit.
Hoeveel transformasie?
Mnr. Langa Zita, direkteur-generaal van Landbou, Bosbou en Visserye, sê heelwat transformasie het al plaasgevind in die sektor, maar dat nog meer gedoen sal moet word. Teen Junie was 612 landbou-ondernemings by die Departement van Handel en Nywerheid se SEB-portaal geregistreer.
Sowat 334 van die 612 was volgens die generiese telkaart gegradeer en 278 was nog nie gegradeer nie. Die gemiddelde swart eienaarskap van die ondernemings is 23%.
Van die 612 is 299 (48,8%) vrygestelde mikroondernemings (EME), 231 (37,7%) is kwalifiserende kleinondernemings (QSE) en 82 (13,5%) is groot ondernemings.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 15 Oktober.
12 Oktober 2010