’n Dispuut oor ’n tender van R800 miljoen vir die polisiëring van die land se visserybedryf en -bronne het glo daartoe gelei dat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, die afdanking van mnr. Langa Zita, haar departement se direkteur-generaal, gevra het.
Luidens ’n berig in The New Age het Joemat-Pettersson glo vir pres. Jacob Zuma om dié stap genader.
Volgens die berig het “ ’n bron naby aan die departement” die inligting weergegee. Mnr. Ramotena Mabote, woordvoerder vir die Minister, het aan die koerant aangedui dat hy nie enige inligting oor dié bewerings het nie, want die Minister praat direk met die President en hy het geen kennis daarvan dat sy so ’n versoek aan Zuma gerig het nie.
Wankelrig?
Mabote sê hy is nie bewus van probleme wat die Minister en Zita se werksverhoudinge betref nie, hoewel ’n bron uit die presidensie glo aan die koerant gesê het dat dié verhouding baie wankelrig is.
Die tender, wat glo aan Sekunjalo Marine Services, ’n swart bemagtigingsmaatskappy, toegeken is, is na bewering intussen onttrek.
Al die aansoekers vir die tender kon glo nie aan die verwagtinge voldoen nie, en die departement se regsadviseurs het gewaarsku dat die tender weer uitgereik moes word. Zita en die komitee betrokke het dié raad glo geïgnoreer.
Joemat-Pettersson is luidens dié berig woedend dat haar departement nie die korrekte prosedures gevolg het nie.
Intussen het mnr. Selby Bokaba, woordvoerder vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, aan Landbou.com gesê dat die departement geen kommentaar op die storie nie.
Bron: The New Age
20 Maart 2012