
Reaksie uit landbougeledere ten opsigte van die skorsing van mnr. Langa Zita, direkteur-generaal (DG) van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, is ’n teken dat die landbou nie met Zita as ’n DG tevrede was nie. Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê dié stap is nie ’n verrassing nie.
“Kaderontplooiing hou nie slegs onaanvaarbare risiko’s vir dienslewering op alle regeringsvlakke in nie, maar is ook onregverdig teenoor individue soos mnr. Zita wat nie in die pos aangestel moes wees nie en nou geskors is,” sê Möller.
Ontevredenheid
Volgens Möller is Agri SA se ontevredenheid met dienslewering deur en verhoudinge met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op ’n spits gedryf deur omstrede uitlatings deur Zita. Dié stellings het volgens Agri SA Zita se onkunde oor en trae hantering van probleme van die kommersiële landbou, asook sy vreemde siening oor hoe hy met die bedryf sou wou skakel, laat blyk.
Möller wens Zita nogtans voorspoed toe en hoop dat sy pos gevul sal word deur ’n persoon met bewese bestuurservaring met ’n goeie kennis en insig van die uitdagings wat die kommersiële landbou konfronteer.
'n 'DG wat weet’
Intussen het mnr. Bennie van Zyl, hoof uitvoerende beampte van die TLU SA, ook die hoop uitgespreek dat ’n nuwe DG, wat weet hoe om die landboudepartement as ’n dinamiese departement aan te dryf, aangestel sal word.
“Ek weet nie wat die rede vir die skorsing is nie, al wat ek weet, is dat ons nie ’n departement het wat dinamies besluite neem en die landbou aanspoor nie,” aldus Van Zyl. Hy meen dat ’n nuwe DG nie ’n politieke aanstelling moet wees nie, maar ’n aanstelling gegrond op die persoon se hantering van uitdagings in die landbou.