
Die historiese Stellenbosse wynplaas Lanzerac is tot verdere kennisgewing gesluit, na 'n brand verlede naweek groot skade op die plaas veroorsaak het.
“Die hart van die ikoniese en geliefde Lanzerac Hotel in Stellenbosch se Jonkershoekvallei lê nou in puin,” lui ’n mediaverklaring.
Kundiges ondersoek nog die oorsaak van die brand, wat omstreeks 02:30 Sondagoggend (28 Mei) in die geboue uitgebreek het. Die brand het ernstige skade aangerig aan die hotel se bedryfs- en gaste-areas, spesifiek die ontvangsarea, Governors Hall-restaurant, Craven Lounge, die Taphuis-kroeg en administratiewe personeel se kantore.
Gaste en personeellede is nie beseer tydens die brand nie. “Geen skade is aangerig aan die herehuis, gastekamers, wynkelder of wingerde nie.”
'Platgeslaan'
Mnr. Winston Cowie, Lanzerac se hoof- uitvoerende beampte, sê hulle is platgeslaan deur die brand.
“Lanzerac het so baie van Stellenbosch verteenwoordig, daarom het julle ons versekering dat die ikoniese eiendom met groot sorg herbou sal word.”
Lanzerac se geskiedenis strek terug tot 1692. Van die eerste Pinotage ter wêreld is ook hier gebottel. Die geboue spog met van die beste voorbeelde van Kaaps-Hollandse argitektuur.
Assesore se voorlopige ondersoek dui daarop dat heelwat van die mure tydens die herbouingsproses weer gebruik kan word. Dit beteken die fasade van die historiese gebou sal outentiek bly. Verskeie van die gewels kon ook gered word.