
Dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van die kamer, sê die term "Agbiz" sal voortaan die akroniem LBK vervang. "Dit vervang egter nie die amptelike naam van die Landboubesigheidskamer nie. Agbiz is kort, kragtig en word reeds met ons web-domain en e-pos-adresse vereenselwig."
Dié verandering volg twee jaar nadat die besigheidskamer sy bande as afiliaal van Agri SA gesny en ’n outonome pad begin stap het.
Die besigheidskamer se slagspreuk "The way to prosperity" (Die weg na welvaart) is ook tydens dié geleentheid bekendgestel. Die woord "prosperity" (welvaart) sluit talle begrippe, soos vooruitgang, sukses en belofte in, terwyl die woord "way" (weg) dui op die kamer se strategiese plan om advies te bied en gesprekke te fasiliteer wat uiteindelik tot ’n gunstige omgewing vir alle landboubesighede in Suid-Afrika - en wyer - sal lei.
Sedert sy stigting in 1946 het die kamer se identiteit ’n paar keer verander. Die organisasie is aanvanklik gestig as die Koöperatiewe Raad van die ou SA Landbou-unie, en die funksie was om die belange van landboukoöperasies te beskerm. In 1995, ná die deregulasie van die landbou in Suid-Afrika, het die organisasie se naam verander na die Landboukoöperatiewe besigheid (ACB) en in 2003 het dit die Landboubesigheidskamer geword.