
Moenie die ses opwindende en relevante sprekers misloop by Landbouweekblad Gesprek, die tydskrif se eerste streekskonferensie op 14 Oktober tydens Agri-Expo Livestock by Sandringham buite Stellenbosch nie.
Getrou aan die aard van ’n Landbouweekblad-konferensie, is elke spreker by Landbouweekblad Gesprek ’n vernuwende denker en leier in sy veld. Mnr. Wiaan van der Linde kom byvoorbeeld praat oor die moontlikheid van ’n florerende wildbedryf in die Wes-Kaap. Hy was Wildbedryf SA (WRSA) se Boer van die Jaar in 2012, en is deesdae voorsitter van WRSA. Van die beste buffel-, swartwildebees- en ander wild-gene word op sy plaas Wintershoek naby Kimberley geteel, en hy is ook ’n vennoot in Die Wildswinkel, ’n unieke, ontwrigtende en hoogs suksesvolle nuwe koop- en verkoop-platform in die wildbedryf.
Ekonoom gesels oor Brexit
Die hoofspreker, mnr. Peter Draper, is ’n ekonoom en politieke kenner wat die groot en veranderende magte in die internasionale handel en politiek gaan verduidelik wat uiteindelik ’n invloed het op die produkprys wat boere kry en die insetkoste wat hulle moet betaal. Hy sal verduidelik wat die opkoms van populiste, soos Donald Trump in Amerika, en die sogenaamde Brexit-besluit van die Britte vir Afrika beteken. Hy ontleed ook of Suid-Afrika die regte beleid het om dié nuwe geleenthede en struikelblokke die hoof te bied.
Vennootskap met Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar
Dan praat mnr. Tebogo Magoshoa, voorsitter van die Tallis-groep en landbou-belegger, oor hoe grondhervorming en transformasie in die landbou eintlik vir boere ’n sake-geleentheid kan bied eerder as ’n bedreiging. Hy vertel hoe dit gekom het dat hy in vennootskap met Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar, mnr. Jacques Beukes, die grootste tafeldruiwe koel- en pakstoor gaan oprig, en hoe die projek vir al twee entrepreneurs ’n belegging is.
Ons gaan ook luister hoe mnr. Angus McIntosh, ’n voormalige aandelemakelaar in Londen, ’n hoëwaarde nismark-beesboerdery op die been gebring het, en nou die top-sjefs in Kaapstad voorsien en hoe mnr. Jeff Every van die grootste projekte met nuwe boere in die land op die been gekry het, in die sukkelende suiwelbedryf.
Springbok Theuns Stofberg
En dan, net vir die lekkerte, gaan ons luister na ’n paar staaltjies uit die voormalige Springbokkaptein, Theuns Stofberg, se speeldae, en ook oor ’n paar uitdagings wat hy in sy lewe die hoof moes bied. Vroegmiddag, nadat die manne klaar gepraat het, gaan ons kuier met ’n bietjie braaivleis en iets verkwikliks – dis per slot van sake Vrydagmiddag!
Vir besprekings: Skakel Nolene Bezuidenhout by 021 406 4573, of e-pos: Nolene.Bezuidenhout@media24.com