
Me. Joylene van Wyk, ’n senior joernalis van Landbouweekblad, is een van slegs 15 uitgesoekte joernaliste wat ’n mediatoer na Tanzanië gaan onderneem. Dié toer word aangebied deur die Internasionale Federasie van Landboujoernaliste.
Tydens die toer sal joernaliste na plekke in Tanzanië geneem word waar hulle kan sien hoe die land armoede deur die landbou verlig. In Tanzanië speel vroue ’n belangrike rol, aangesien hulle meer as die helfte van die werkmag van die landbousektor uitmaak. ’n Opwindende skuif wat Tanzanië tans doen, is om meer vroue-vriendelike landboutegnologie bekend te stel.
“Ek is baie opgewonde oor die toer, veral omdat ek die geleentheid kry om dié landboubedrywighede eerstehands te kan ervaar,” sê Joylene. “Ons gaan ook politici ontmoet wat vir ons ’n prentjie sal skets van die rigting waarin die landbou in dié land beweeg. Die toer bied my die geleentheid om ‘n beter begrip te kry wat in ons niggie se agterplaas aangaan en om ‘n groter prentjie te kry van landbou op die kontinent.”
Die joernaliste sal ook ’n Maasai-mark besoek en van die geleentheid gebruik maak om uit te vind hoe hulle ‘n ietwat informele markstelsel so doeltreffend laat werk.
“Ek was van kleins af gefasineer deur dié land se kultuur en is opgewonde oor wat ek alles uit die ervaring gaan leer.”
Die groep vertrek 9 November op hul sesdag-toer na Tanzanië. Dit sluit ook uitstappies na suiwelkoöperasies, aanlegte vir melkverwerking, visboerderye en kweekhuise vir blomme in.
* Joylene Van Wyk is Landbouweekblad se parlementêre verslaggewer.