
Twee Landbouweekblad-joernaliste is beloon vir hulle uitstekende werk as landboujoernaliste in Suid-Afrika.
Mnr. Charl van Rooyen, assistentredakteur van Landbouweekblad , wat in die tydskrif se Pretoria-kantoor gebaseer is, en mnr. Theuns Botha, Landbouweekblad-verslaggewer in Port Elizabeth, het albei pryse gewen wat tydens die Internasionale Federasie van Landboujoernaliste (IFAJ) se jaarkongres oorhandig is. Dié kongres vind vanjaar in Pretoria en Kaapstad plaas.
Van Rooyen het ’n tweede prys in 'n internasionale artikel-kompetisie met sy artikel oor mnr. Kleinjan Gasekoma van Reivilo gewen. Dié artikel handel oor die lang pad wat Gasekoma sonder staatshulp moes loop om van opkomende boer tot kommersiële boer te gaan. Gasekoma boer met Braunvieh-beeste en is in 2015 as Voermol se Beesboer van die Jaar aangewys.
Botha het op sy beurt die topprys in die produksie-afdeling van die internasionale fotokompetisie gewen met ’n foto van skaapwol.
Mnr. Theuns Botha se wenfoto.