
Landbouweekblad se veld-en-bossiedae wat eersdaags in die Oos-Kaap gehou word, konsentreer op die herstel van die veld en boerderyproduktiwiteit.
Onderwerpe soos veldherstelmetodes, die bestuur van veld en weiding, die ekonomie van skaap- en bokhaarboerdery, en die toekoms van droogtehulp sal bespreek word op die dae wat by Graaff-Reinet (18 Maart), Willowmore (22 Maart) en Steytlerville (23 Maart) gehou sal word.
Die velddag op mnr. Doug Stern se plaas Rietpoort by Nieu-Bethesda sluit praatjies deur Stern en mnr. Roland Kroon, en ’n veldbesoek in. ’n Verteenwoordiger van Agri Oos-Kaap sal die toekoms van droogtehulp bespreek.
Dr. Loraine van den Berg, spesialiswetenskaplike by die Grootfontein-landbou-ontwikkelingsinstituut op Middelburg, en mnr. André Fourie, ’n landboukonsultant van Bredasdorp, is die sprekers by die dae op Willowmore en Steytlerville. Albei dae sal met ’n bespreking in die veld afgesluit word.
Van den Berg sal oor veldbestuur en die voor- en nadele van verskillende veldherstelmetodes praat en Fourie oor die ekonomie van kleinveeboerdery.
Op die Steytlerville-dag op die plaas Sapkamma van mnr. Errol McKay sal dr. Amelia Genis van Landbouweekblad die kwessie van geld vir veldrestourasie bespreek.
Die Willowmore-dag word by die skousaal gehou, waarna almal ’n nabygeleë plaas besoek vir ’n bespreking in die veld. Die velddeel van die Steytlerville-dag word by mnr. Jay Killian van Rooikrantz gehou.
Om jou plek by een van die dae te bespreek, stuur ’n WhatsApp na 082 298 9713 of 083 462 4597. Klik hier vir meer inligting oor die program.