Altesaam vier lede van die Vrystaatse veediefstaleenheid is geskors nadat ondersoeke aangedui het dat hulle moontlik by veediefstal betrokke is, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Luidens ‘n berig op News24.com sê kol. Motantsi Makhele, woordvoerder, verskeie lede van die eenheid wat na bewering nie hul werk na behore gedoen het nie, is ook vervang.
Makhele sê dié stappe is geneem nadat boere tydens ‘n vergadering in Augustus hul kommer uitgespreek het oor die moontlike betrokkenheid van polisiebeamptes by dié misdaad en die ondoeltreffendheid van sommige lede. “Intensiewe ondersoeke is regdeur die provinsie onderneem en verskeie arrestasies is gemaak.”
Polisiebeampte van Virginia
‘n Lid van die Polisie op Virginia het Maandag (4 Oktober) reeds in die hof verskyn. Hy is saam met twee ander mans aangekeer terwyl hulle beweerde gesteelde beeste van ‘n plaas in die Verkeerdevlei-omgewing vervoer het. Volgens Makhele sal konstabel Seun Hugo se interne dissiplinêre verhoor volgende week (11 en 12 Oktober) plaasvind.
Intussen is drie ander lede van die Polisie op Memel geskors omdat hulle glo by ‘n veediefstalsaak in Oktober verlede jaar betrokke was. ‘n Ondersoek is van stapel gestuur nadat die beamptes beweer het dat hulle die beweerde gesteelde skape gekoop het, en kriminele én departementele sake is teen hulle geopen.
Die mans sal volgende week in die hof verskyn (13 Oktober), terwyl hul interne verhoor op die 18de van dié maand sal plaasvind.
5 Oktober 2010