
Dit blyk die staat nie hou by sy beloftes van beveiliging, ‘n grensdraad en `n behoorlike grenspad langs die Lesotho-grens nie.
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se komitee vir wet en orde, sê boere langs die grens doen tans opnames oor watter stappe nog nie geneem is sedert die staat met die VL in Junie verlede jaar ‘n skikkingsooreenkoms aangegaan het nie.
Die ooreenkoms is in die Hooggeregshof in Bloemfontein bekragtig ná ‘n voortslepende hofsaak teen die staat weens ‘n gebrek aan veiligheid langs die grens wat tot plaasgeweld en gereelde veediefstal gelei het.
Die ooreenkoms
Die ooreenkoms het spesifiek op drie faktore berus:
- Doeltreffende polisiëring van die grens deur die staat.
Die staat onderneem om die grenspad wat gepatrolleer moet word, op te gradeer en in stand te hou.
- Die oprigting van ‘n grenslyn teen R5,5 miljoen tussen Wepener en Zastron, wat later tot by Clarens kan strek.
‘n Gesamentlike taakspan van die VL en die departement van landbou in die Vrystaat sou die beplanning en oprigting van die grenslyn behartig. Wat polisiëring van die grenslyn betref, het die Polisie onderneem om hulle mag van 130 beamptes op die grens met twee pelotons van 72 lede te versterk, asook om observasiepunte op te rig.
Die staat het ook toerusting en 16 voertuie vir die grenspatrollies aangeskaf. Verder is onderneem om ook ‘n satelliet te gebruik om die grens te monitor.
Hoe lyk dinge nou?
Breytenbach sê die heining wat tussen Wepener en Zastron opgerig sou word, is nog nie voltooi nie. Landbou.com het die afgelope naweek, saam met die Bethlehem Boerevereniging, besoek by die ou grenspad tussen Clarens en Fouriesburg gaan aflê. Geen heining bestaan tans langs dié grenspad nie. Slegs ou verlate pale, wat vir die vorige heining opgerig is, is plek-plek te sien.
Altesaam 13 van die 14 vraghouers, wat as uitkykpunte vir die Polisie dien, is reeds in plek. Vraghouer 12, wat ons besoek het, was egter 15:00 Vrydagmiddag (4 Februarie) gesluit, met geen aanduiding dat iemand in die voorafgaande week daar was nie.
Breytenbach sê dié vraghouers het glo geen radiokommunikasie wat die polisiebeamptes met die stasies verbind nie, en van die beamptes kla dat die vraghouers nie prakties is nie, aangesien die kombuis en sanitêre geriewe reg langs mekaar ingerig is.
Weidingdiefstal
Tydens Landbou.com se rit langs die grenspad het ons op twee gevalle van onwettige grenskruisings en drie van weidingdiefstal afgekom. Die persone betrokke het elke keer op die vlug geslaan as hulle ons voertuig gesien het, en veldwagters het so vinnig moontlik hulle diere aan die anderkant van die rivier probeer kry.
Kyk gerus na ‘n video van een van die weidingdiefstalvoorvalle.
Die pad
Landbou.com het ook ‘n video geneem van die toestand van die ou grenspad, en ons voertuig moes omtrent sy viertrekratkas aanwend om met dié pad te ry. Nog ‘n video is hiervan te sien.
‘n Nuwe pad is wel gebou, maar dié pad is slegs vir 4,2km begaanbaar. Klippe het dit toegeval, wat die pad onbegaanbaar maak. Dit is ook nie duidelik of voertuie dié pad patrolleer nie, aangesien dit toegegroei is met gras.
Kyk gerus hier na ‘n foto-album van die grens.
Breytenbach sê sodra hulle al die nodige inligting ingesamel het, is hulle van plan om die saak aan advokaat Bishos voor te lê. VL wag intussen op terugvoer van die Vrystaatse Regering vir ‘n vergadering in die verband.
9 Februarie 2011