Sekere instellings wat tydens apartheid ingestel is, “het baie goed gewerk”. Dit kan straks afgestof word om weer die landbou ’n hupstoot te gee.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het op ’n werksessie tydens die Agri Megaweek gesê daar is groot fout as swart mense steeds ná 17 jaar van ’n nuwe regering nog “opkomende” boere is.
“’n Mens verwag ’n baba vir nege maande, maar as mense vir 17 jaar lank opkomende boere bly, is daar êrens groot fout.” Sy meen dit het te doen met ’n tekort aan vaardighede, beperkte finansiële bronne en probleme met marktoegang.
“Ons moet egter besef daar was goed wat tydens apartheid gevestig is wat baie goed gewerk het. Hoekom kan ons nie daarby leer nie? Alles in apartheid was nie sleg nie,” het sy aan ’n gehoor gesê wat hoofsaaklik uit plaaswerkers en swart boere bestaan het.
“Ons het in die verlede die besluit geneem om dielandboukolleges toe te maak en nou erken ons ons het ’n fout begaan. Daardie kolleges het mense opgelei,” het sy gesê.
Land Bank
Sy het ook uitgevaar teen die hoë rentekoers waarteen die Land Bank glo aan boere geld leen.Volgens haar leen die Land Bank geld tans teen ’n koers van sowat 19%.
“Niemand kan ’n lening teen daardie koers terugbetaal nie.” Joemat-Pettersson het gesê een van die goeie instellings uit die apartheidsera is koöperasies.
“Die (swart) boere het die produksie, maar toegang tot markte is ’n probleem. Ons moet bymekaarkom en koöperasies vorm, want dan sal ons die volume hê om die goed by die mark te verkoop.”
23 September 2011