
’n Wildboer van Limpopo is só moedeloos ná die vergiftiging van drie van sy leeus, dat hy sy boerdery sou staak as dit nie was vir die mense wat vir hom werk nie.
Drie van mnr. André de Lange se leeumannetjies, met ’n waarde van sowat R900 000, is vandeesweek in die Tzaneen-leeu-en-roofdierpark vergiftig.
“Ek kan die droogte hanteer, maar die stropery . . . Dis net te wild!” sê De Lange.
Groot verlies
Die stropers het vermoedelik drie lyndrade geknip, verby ’n alarmstelsel gekom en die leeus vergiftig. Daarna het hulle die leeus se bene, pote en koppe gestroop.
De Lange het om 06:00 die volgende oggend op die toneel afgekom. “Die alarm het nie eens afgegaan nie,” sê hy.
“Dit is ’n groot verlies, want ek het nie versekering nie. Ek bars om my banklenings af te betaal.”
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het bevestig dat daar nog geen verdagtes is nie. Hy vra die gemeenskap om enige inligting wat kan help met die ondersoek, by die polisie aan te meld.
Boerdery in gevaar
Volgens De Lange het ’n soortgelyke geval ook ses maande gelede gebeur en kan sy boerdery dit nie bekostig nie. “Niks gebeur nie. Die vorige mense is gevang en hulle is uit op borgtog. Ons regstelsel is ’n gemors. Die polisie doen hul werk, maar die hof laat hulle uit op borgtog.”
Hy probeer hoopvol bly dat die polisie die verdagtes in hegtenis gaan neem, maar indien die stropery voortduur, is sy onderneming in gevaar. “As ek die plaas toemaak, gaan 45 huisgesinne sonder ’n inkomste sit. Hulle werk al tien jaar of langer hie,” sê De Lange.
Enigiemand met inligting kan die Tzaneen-polisiekantoor bel by tel. 015 306 2000.