Leeus se toekoms is in gedrang met getalle wat die afgelope 50 jaar van 450 000 tot 20 000 afgeneem het.
Luidens ’n berig van die omgewingsprogram 50/50 is Dereck en Beverly Joubert, ’n bekende egpaar wat wild verfilm, baie bekommerd oor die oorlewing van leeus. Dereck sê die moontlikheid bestaan dat dié spesie oor 15 jaar kan uitsterf.
Hy sê spoedige optrede is nodig om te verseker leeus sterf nie uit nie. “Ons het nie meer die luuksheid van tyd as dit by groot katte kom nie,” sê Joubert op die natuurprogram se webtuiste.
Ernstig bedreig
Me. Karen Trendler, hoof van die NGO Alliance Group wat hulleself vir kwessies met betrekking tot leeus beywer, sê sy dink nie mense besef watter ernstige bedreigings dié spesie tans in die gesig staar nie.
Sy sê leeus wat in aanhouding geteel word, vorm nie regtig deel van Afrika se leeubevolking nie. “Veral omdat leeus wat in aanhouding geteel word, nie op wilde terrein vrygelaat kan word nie.”
Volgens ’n opname wat die groep verlede jaar gedoen het, is tussen 3 700 en 4 500 leeus tans in aanhouding in Suid-Afrika.
Trendler sê hoewel die probleem van stroping onder leeus nog nie dieselfde afmetings aanneem as wat met renosters die geval is nie, is hulle steeds bekommerd oor die invloed daarvan op die spesie.
Stroping
Die gebruik van leeubene as deel van tradisionele medisyne in China neem toe. Dit volg ná die Chinese die medisinale waarde daarvan bepaal het as op dieselfde vlak as dié van tierbene. Trendler sê dit is egter ironies dat die gebruik van leeubene, soos renosterhoring, geen medisinale waarde het nie.
“Hoewel die toestande waarin leeus in sommige gevalle in Suid-Afrika aangehou word, bevraagteken kan word, is die toestande vir dié diere wat vir hul bene aangehou word, steeds beter as dié van tiere in China.
"Tiere wat net vir hul bene in China aangehou word, se lewenstoestande is absoluut haglik, want die telers of eienaar meen hy het net die dier se bene nodig en hoef nie daarna om te sien nie,” vertel Trendler.
1 November 2011