
Volgens die SA Boerperd-telersgenootskap was Oom Jan, soos hy bekend gestaan het, ’n stigterslid van die genootskap. Hy was ook raadslid, erelid en keurder by die genootskap.
Hy is in 1947 gebore en was eienaar van die Lang Carel SA Boerperd-stoetery by Lüneburg in KwaZulu-Natal.
Mnr. Michiel Burger, president van die SA Boerperd-telergenootskap, sê een van Oom Jan se grootste bydraes was agter die skerms terwyl hy deel was van die ontwikkeling van die genootskap. “Ek het 25 jaar saam met hom in die raad van die genootskap gedien. Sy grootste bydraes was volgens my minder opsigtelik namate hy gehelp het om die genootskap van die grond af te laat ontwikkel tot waar dit vandag as een van die grootstes in die land bekend is.”
Vele kampioene is uit die nageslag van die Lang-Carel-perde gebore. “Sy perde se skouprestasies is ongeëwenaar en die impak van sy stoetery se genepoel op die ras is baie groot. Tot 95% van die ras stam van sy perde af.”
Die genootskap het in sy huldeblyk medelye aan Van der Wath se vrou, Rosa, kinders, kleinkinders en familie op die Facebook-blad oorgedra. “Hy was ’n mentor wat sy besonderse kennis graag gedeel het."
Sy oupa het die bekende Lang Carel Drakensberger-stoetery begin. Van der Waht het destyds hierdie stoetery oorgeneem, maar later jare sy klem na Boerperde geskuif en die Drakensbergers aan telers in die genootskap verkoop.
Hy was volgens mnr. Jean van der Merwe, president van die Drakensberger-telersgenootskap, ’n legende in die bedryf volgens menige teler.
“Ons as genootskap is hartseer oor sy afsterwe en dra ons simpatie en medelye aan sy naasbestaandes oor.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.