
Die vermoë van ’n land en sy eierprodusente om die riglyne toe te pas, moet in af geneem word.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) en die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het afsonderlik gereageer op ’n onlangse verklaring deur die nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) waarin hy sy kommer uitspreek omdat Suid-Afrika een van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) se lidlande is wat gestem het om nie ’n voorgestelde globale standaard vir die welstand van lêhenne aan te neem nie.
“Die DBV het ernstige bedenkinge oor wetenskaplike bewyse wat deur die kommersiële eierbedryf en regerings verontagsaam word bloot omdat die wetenskap ongunstig vir handel is. Ons rig ’n versoek aan ons instellings om nie klem te plaas op internasionale liggame wat voorsiening maak vir globale nywerhede en min tot geen waarde het vir die welstand van die diere nie. Die diere verloor altyd,” lui die verklaring.
Mnr. Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, sê toe op die OIE se vergadering oor die voorgestelde riglyne gestem is, is dit nie met ’n meerderheid van twee derdes aanvaar nie.
Ngcobo wys daarop dat Suid-Afrika nie die enigste land was wat daarteen gekant was dat hierdie welstandsriglyne as ’n globale handelstandaard aanvaar word nie, maar dat dit “ ’n algemene Afrika-standpunt” was.
“Die res van die wêreld het eiers van henne in hokke geproduseer en dit het gehelp om voedselonsekerheid te verlig. Sekere produksietoestande, soos hokke en behuising, kan sekere diere, soos pluimvee, teen roofdiere en tot ’n mate teen siektes beskerm. Dierewelstand moet altyd in ag geneem word met diereproduksie en -vervoer.”
Ngcobo sê dat Suid-Afrika se bestaande dierewelsorgwetgewing bly van krag vir lêhenne en dat meer onlangse ontwikkelings in hierdie opsig in ag geneem word.
Nadeel vir ontwikkelde ekonomieë
Dr. Abongile Balarane, hoofbestuurder van die SAPV se eierorganisasie, sê die OIE se jongste voorgestelde riglyne vir die welstand van lêhenne sou minder ontwikkelde ekonomieë, soos Suid-Afrika, benadeel het. As dit aanvaar is, het hierdie riglyne dalk onbedoelde gevolge gehad vir die verskaffing en bekostigbaarheid van eiers in hierdie minder ontwikkelde ekonomieë.
Hy sê talle uitdagings staar Suid-Afrika in die gesig, insluitend hoë werkloosheid, armoede, stadige ekonomiese groei en hoë inflasie.
“Die SAPV glo dat alle bestaande eierproduksiestelsels moet bly en dat opsies aan Suid-Afrikaanse verbruikers gebied moet word op grond van hul bekostigbaarheid en elke verbruiker se koopkrag. Dit is nie raadsaam om Suid-Afrika soos Europa of Amerika te behandel nie. Ons glo dat die bestaande drie produksiestelsels – hok, hokvry en skuur – behoue moet bly en om inklusiewe groei in die sektor te verseker, moet ons die verbruik van eiers aanmoedig.”
Hy sê die SAPV het ’n praktykkode wat sy lede leiding bied ten opsigte van die welstand van lêhenne en ander pluimvee. Verder is die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde, die nasionale pluimveebedryf, die DBV en ander belanghebbendes besig om ’n standaard vir die welstand van lêhenne te ontwikkel.