
Die sybokhaarbedryf is verras deur die skielike bedanking van mnr. Reinhold du Randt, voorsitter van Sybokhaar Suid-Afrika.
Du Randt, wat ononderbroke sedert Augustus 2006 die voorsitter was, se termyn sou eers oor drie jaar verstryk het. SSA het nie ’n amptelike verklaring oor sy bedanking uitgereik nie. Mnr. Pierre van der Vyver van CMW, wat ook in die direksie dien, sal as voorsitter waarneem tot in Februarie.
Du Randt, wat op Pearston boer, het op navraag aan Landbouweekblad gesê dat hy nie daaraan glo dat ’n voorsitter ’n stoel vir altyd vir altyd "warm moet sit" nie. “Ek is tevrede met wat ek die afgelope agt jaar bereik het en die tyd het aangebreek om nou die aflosstok oor te gee. Toe ek destyds in die pos verkies is, waar daar baie onderstrominge in die bedryf. Vandag is die bedryf baie meer verenig met goeie leierskap. Al die rolspelers is op goeie voet en werk goed saam om die uitdagings die hoof te bied en sybokhaar op die voorvoet te hou.”
Du Randt sê hy wil graag meer aandag aan sy boerdery gee en graag ook meer tyd met drie van sy kinders wat in die Kaap woon, wil deurbring.
Mnr. Deon Saayman, hoofbestuurder van Sybokhaar Suid-Afrika, sê du Randt het gedurende sy termyn uitstekende strategies besluite geneem en waardevolle insette gelewer. "Ons sal hom mis.”