
“Die bedryf sal waarskynlik 8-10% van sy wingerde uittrek omdat dit onwinsgewend is en omdat sitrus en pekanneute op die toneel verskyn,” het mnr. Rico Basson, hoof-uitvoerende beampte van VinPro, gesê tydens Wineland se seminaar om innovasie in die wynbedryf aan te wakker.
Volgens dr. Adriaan Oelofse van Winetech is dit nie ’n geheim dat net 15% van die wynbedryf tans winsgewend is nie. Sowat ’n derde boer teen ’n verlies.
“Boere se primêre koste het die afgelope tien jaar verdubbel en die bruto marges het die laaste vier jaar dieselfde gebly. Die gapings raak dus net groter en groter. Die bedryf veg om oorlewing en ons het sterk leierskap nodig om druiweboere te red en te ondersteun. Ons het ook rigting nodig met grootmaatwyn-pryse en hoe om wyn te verpak en uit te voer vir die millennial-verbruikers.”
Om meer verpakte wyn uit te voer
Mnr. Bruce Jack, groepwynmaker vir Accolade, een van die wêreld se grootste wynmaatskappye, het Basson en die Wise-program geloof vir die doelwit om meer verpakte wyn en minder grootmaatwyn uit te voer.
“In ons belangrikste markte, soos die Verenigde Koninkryke, sukkel ons om handelsmerke te bou, want veral die supermarkte het besef hul marges lyk beter met eie handelsmerke. Dikwels is hierdie nie eers regte handelsmerke nie, maar net ’n plakker op ’n bottel. Dit vat lank om ’n handelsmerk te bou en ons bedryf moet aandring om die belangrikheid van ons handelsmerke.”
Basson sê die “volume-obsessie” moet met waarde gebalanseer word.
'Ons praat gehalte'
Jack vertel Kaliforniese wyn verkoop nie vir minder as $60 (R815) per bottel nie, omdat die goedkoopste druiwe sowat R40 000/ton kos. Die duurste druiwe word vir R250 000/ton verkoop.
“In Napa glo en praat en verkoop die bedryf gehalte. Dieselfde gebeur in Wes-Australië, waar die bedryf rondom premie-pryse en handelsmerk gestruktureer is, danksy leierskap en koördinering. As jy dit vergelyk met die lae pryse wat druiwe in Suid-Afrika verdien, is dit bykans misdadig.”
Hy sê een van die grootste foute wat Suid-Afrikaanse wynboere maak, is om nie strategies aan te plant nie.