
’n Nuwe ooreenkoms rakende die grens met Lesotho en die beskerming van boere se belange langs die grens, gaan na verwagting Donderdag (20 September 2012) in die Bloemfonteinse Hooggeregshof bekragtig word.
Mnr. Kobus Breytenbach, ondervoorsitter van Vrystaat Landbou (VL), sê die ooreenkoms is aan die einde van verlede maand deur die Vrystaatse provinsiale regering onderteken.
Dié ooreenkoms is saamgestel nadat VL ’n hofsaak teen die provinsiale regering oorweeg het omdat die eerste ooreenkoms, wat in 2010 in ’n hof bekragtig is, nie nagekom is nie. Pres. Jacob Zuma het die organisasie genader en gevra of hulle asseblief onderhandelinge buite die hof sal oorweeg, wat deel was vann ’n poging om die saak buite die hof te skik.
Erns
In antwoord op ’n vraag of daar ’n waarborg bestaan dat dié ooreenkoms nagekom sal word, sê Breytenbach: “Dit is tans die million dollar question”. Hy sê die bepalings wat in die ooreenkoms vervat is, is met groot erns aangepak en hulle verwag dat die Regering strenger in daardie verband sal optree.
Hy sê in die ooreenkoms is ’n afdeling ingewerk oor hoe hulle te werk moet gaan indien hulle nie met iets tevrede is of as iets nie nagekom word nie. “Spesifieke persone is ook aangewys met wie daar oor sekere sake in verbinding getree moet word, want vroeër moes dit net na die LUR of iemand in sy kantoor verwys word.”
Wat die grenspad betref, sê Breytenbach dit is die nasionale departement se verantwoordelikheid en opmetings word tans gedoen sodat dit verbeter kan word.