So vinnig as wat Vrystaatse boere ’n grensheining aan die Lesotho-grens oprig, so vinnig word dit deur burgers van Lesotho afgebreek.
Volgens mnr. Stef Buys, wat naby Wepener boer, is die helfte van die draadheining wat hy op sy plaas opgerig het, vernietig. Dié lemmetjiesdraadheining strek oor 8 km en het Buys R30 000 uit die sak gejaag, berig Volksblad.
Dié boer weet nie meer wat om te doen om die situasie te beredder nie. “Ons het nou private veiligheidswagte aangestel, want ons het lanklaas die weermag hier patrolliewerk sien doen.”
Boere in dié omgewing het baie probleme met burgers van Lesotho wat heinings vernietig sodat hulle vee kan steel en oor die grens kan jaag. Voorvalle van geweld kom ook van tyd tot tyd voor.
Geweld
In ’n voorval einde November 2011 is mnr. Sean Schutte, ’n plaasbestuurder van die distrik Ladybrand in ’n plaasaanval doodgeskiet toe hy en sy broer, Louis, twee Lesotho-burgers wat op hul grond was, agternagesit het.
’n Jaagtog is gevolg deur ’n skietery waarin Sean doodgeskiet en Louis swaar gewond is. Volgens Vrystaat Landbou (VL) loop boere en plaaswerkers se gemoedere hoog langs die Lesotho-grens.
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van die organisasie se veiligheidsheidskomitee, sê: “Van die ouens is al so keelvol, en as hulle genoeg gehad het, is ’n mens regtig bang hulle neem die reg in eie hande.”
Intussen wil VL die regering hof toe sleep omdat hy nie sy pligte langs die grens nakom nie. Dit is na aanleiding van ’n besluit dat ’n nuwe grensheining opgerig sal word, die grenspad herstel sal word en dat die polisie die grens sal patrolleer.
Bron: Volksblad
24 Januarie 2012