Die stryd oor die Lesotho-grens gaan voort terwyl die deel van die heining wat reeds opgerig is, afgebreek word, sê Vrystaat Landbou (VL).
Mnr. Kobus Breytenbach, die voorsitter van die organisasie se veiligheidskomitee, sê hulle stamp tans koppe met die staat oor die instandhouding van heinings wat reeds opgerig is.
Breytenbach sê intussen gaan hul hofgeding oor minagting van die hof teen die staat voort. Hofstukke word saamgestel omdat die organisasie meen die staat kom nie die ooreenkoms met betrekking tot die grens na nie. Die ooreenkoms is aangegaan ná die organisasie verlede jaar tot ’n skikking ingestem het.
Lees hier meer oor die skikking.
Instandhouding en herstelwerk
Volgens Breytenbach duur die voltooiing van die dokumente langer as wat verwag is, omdat hulle nou ook kwessies oor instandhouding en herstelwerk van die reeds opgerigte grensdrade wil aanroer.
Herstelwerk en instandhouding is nie in die aanvanklike voorskrifte van die dokument vervat nie. Volgens die ooreenkoms is dit een van die kwessies waaroor ’n komitee wat aangestel is om die grenssaak te monitor, moet besluit.
“Ons vra nou die staat, deur middel van die komitee, om dié drade wat reeds opgerig is en beskadig en afgebreek is, te herstel of te vervang. Die staat sê egter nee, dis nie in die oorspronklike ooreenkoms uitgestippel nie. Hy sal eers aandag daaraan gee wanneer die hele grensdraad opgerig is,” verduidelik Breytenbach.
Mors van geld
Breytenbach sê hulle meen die kwessie moet nou opgelos word, anders word belastingbetalers se geld gemors. “Dele van die heining tussen Wepener en Zastron is reeds beskadig en afgebreek. Voor ons in Bethlehem aankom, gaan die heining klaar weggedra wees, en wat is dan bereik?”
Altesame 18 km se heining is reeds opgerig, en die boere wat dit gedoen het, is reeds daarvoor vergoed. Breytenbach sê die voorkoms van veediefstal in dié distrik het ’n tyd lank afgeneem. “Dit het egter weer begin toeneem en ons vermoed dit is, ondanks die Weermag se beveiligingspogings, weens die afbreek van die heining.”
Kyk hier na ‘n video van 'n weidingdiefstalvoorval.
6 September 2011