
Die kans dat die streng nuwe invoermaatreëls vir lewende hawe uit Namibië binnekort vir slagdiere versag kan word, lyk skraal.
'n Beplande tegniese komitee op owerheidsvlak het nog geen nuwe voorstelle opgelewer nie, terwyl rolspelers in die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf verskillende standpunte het.
Dié maatreëls behels duur bloedtoetse vir verskeie siektes en het op 1 Mei in werking getree.
Die Rooivleisprodusente-organisasie verwelkom die maatreëls, maar mnr. Louw van Reenen, voorsitter van die SA Voerkraalvereniging, sê sý bedryf ly groot skade en hoër pryse kan volg. “Sowat 10% van ons speenkalwers word uit Namibië ingevoer.”
Die vereniging en die Rooivleis-abattoirvereniging laat daarom die nuwe maatreëls fynkam om te bepaal of dit aan die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) se relevante kodes asook die Wêreldhandelsorganisasie se ooreenkoms oor sanitêre en fitosanitêre maatreëls voldoen.
Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO, sê die organisasie steun in beginsel 'n spesifieke protokol vir diere wat regstreeks van die grens na abattoirs gebring word, en dalk ook so 'n protokol vir voerkraaldiere.
Beide protokols kan “ligter” maatreëls behels maar nie 'n terugkeer na wat voorheen op grond van persoonlike toegewings tussen die twee lande gegeld het nie. Suid-Afrika wil hom as uitvoerland posisioneer.
Volgens Schutte verwag die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye konsensus van die rooivleisbedryf voordat sulke protokols oorweeg sal word. Hy sê dit is jammer die protokols is nog nie afgehandel nie en dat die Rooivleisbedryfsforum eers oor beginselsake moet ooreenkom.
Mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die Namibiese Lewendhawe Produsente-organisasie, sê hulle het vinnig 'n oplossing nodig. Om hulle te beroep op internasionale organisasies om in te gryp, sal maande duur.
“Ons sal deeglik daaroor moet besin om ons grense na ander lande oop te maak, spesifiek na die noorde.”
Schneider meen Suid-Afrika se veterinêre maatreëls word as rookskerm gebruik en sê Suid-Afrika kan nie self aan die veterinêre vereistes voldoen wat hy nou aan Namibië stel nie.
* Die berig is deur Carien Kruger en Charl van Rooyen geskryf.