Die moordenaar van ’n groenteboer van Brits is 43 jaar tronkstraf opgelê vir sy dade, wat onder meer tot sowat 80 werksverliese gelei het.
Luidens ’n berig in Beeld het regter Mohamed Ismail Maandag (2 April 2012) in die Hooggeregshof in Pretoria gesê die moord op die 60-jarige mnr. Koos van Staden het “onpeilbare implikasies” meegebring.
Ismail het gesê Van Staden was ’n barmhartige werkgewer en ’n plaaswerker het hom as hul “pa” bestempel. Die plaas in die distrik Kleinfontein gaan volgens Van Staden se oudste seun, Eckhard, verkoop word, en die sowat 80 plaaswerkers is al weg van die plaas af.
Aanval
Die 32-jarige Robert Kgaphola en John Mapea, ’n medepligtige, het Van Staden en sy vrou, Heleen, die nag van 19 Maart 2010 in hul huis aangeval. Mapea is intussen glo aan malaria dood.
Die slaapkamerdeur was gesluit, maar die twee aanvallers het dit oopgeskop. Die mans het ook skote deur die deur geskiet, en dit is toe dat Van Staden raakgeskiet is. Van Staden het teruggeskiet, waarna die mans gevlug het. Slegs ’n mes, met Van Staden se naam op, is gesteel. Van Staden is by sy aankoms by ’n plaaslike hospitaal dood verklaar.
Mapea is later in hegtenis geneem met die mes en ’n vuurwapen in sy besit. Hy het Kgaphola aan die Polisie uitgewys.
Nie berou nie
Ismail sê Kgaphola toon nie berou vir die dade wat hy gepleeg het nie. Hy was verder ontevrede dat Kgaphola tot Maandag toe nog op borgtog van R500 vir die “ernstigste misdade waaraan ’n mens kan dink” uit was.
Kgaphola is lewenslange tronkstraf weens die moord opgelê. ’n Verdere 15 jaar is weens die rooftog toegeken, en twee jaar vir die besit van onwettige vuurwapens. Vir die onwettige besit van ammunisie het hy ses maande in die tronk gekry, en nóg ’n jaar vir die vergiftiging van die egpaar se hond. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
Bron: Beeld
3 April 2012