
Die maatskappy wat bekende handelsmerke soos Lancewood en Denny besit, se jaarresultate tot einde Desember is verlede week uitgereik.
Mnr. Charl de Villiers, uitvoerende hoof van die maatskappy, het tydens die voorlegging gesê selfs al is produkte se pryse verhoog, kon dit nie stygende koste teenwerk nie. Boonop het verbruikersbesteding getoon koopkrag was onder druk, terwyl hoë vlakke van beurtkrag ook die groep se vertoning geraak het. Vertragings met die verskeping van sy uitvoerprodukte het volgens De Villiers boonop sekere probleme veroorsaak. Libstar se Denny-aanleg in KwaZulu-Natal wat in September vermoedelik deurgeloop het onder brandstigting, het bygedra tot die afskryf van R98 miljoen en die aflegging van meer as 300 werknemers.
Libstar se inkomste vir die boekjaar het met 10,7% gegroei, maar sy genormaliseerde wesensverdienste per aandeel het met 11,8% tot 65,3 sent geval. Die maatskappy se bruto winsmarge het met 20,7% tot 22c gedaal. 'n Finale dividend van 22c per aandeel is verklaar.
Planne met son en water
De Villiers het gesê hulle maak planne om gebruikte water te herwin en die groep eie opwekkingsvermoë van elektrisiteit deur die komende jaar nóg verder uit te brei.
Meer sonpanele en opbergplek word beplan om die gevolge van beurtkrag verder te beperk. Libstar het reeds R39 miljoen in 2022 uitgehaal om beurtkrag aan te pak, waarvan 70% van dié bedrag aan drie afdelings, Lancewood, Denny Mushrooms en Finlan Fine Foods, toegewys is.
Ongeveer R13 miljoen is in die boekjaar bestee om kragopwekkers aan die gang te hou.
Nóg R6,3 miljoen is reeds in Janaurie en dus die huidige boekjaar uitgehaal om die groep se opwekkingsvermoë van krag uit te brei.