Die lig van die moratorium op renosterhoring-handel in Suid-Afrika is die eerste stap wat die staat moet oorweeg in die stryd teen renosterstroping, aldus die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV).
Luidens ‘n verklaring meen die vereniging die tweede stap is dat plaaslike owerhede die konvensie op die internasionale handel in bedreigde spesies (CITES) moet oorreed om sý verbod op handel in renosterhoring te lig.
Volgens die AHGCA moet dié verbod plek maak vir ‘n gereguleerde en wettige internasionale renosterhoring-handelsplatform.
DNS sertifikaat
Die vereniging sê die verkoop van renosterhoring moet slegs plaasvind op die voorwaarde dat vir elke horing wat verkoop word, ‘n DNS-sertifikaat uitgereik word.
Die besonderhede van elke koper en verkoper kan dan op die DNS-databasis van die veearts-genetiese laboratorium by Onderstepoort ingevoer word.
“Só ‘n drastiese stap sal onmiddellik die waarde van lewende diere verhoog bo die eenmalige waarde van ‘n gestroopte dier se horing,” aldus mnr. Fred Camphor, voorsitter van die SAHGCA.
Die organisasie sê hy steun die menige aksies wat tans onderneem word om die diere teen stropers en uitwissing te beskerm. Hy meen dit is egter onwaarskynlik dat ‘n 5000 jaar oue geloof onder oosterse gemeenskappe, dat renosterhoring medisinale waarde het, sal verander.
Verder stem die SAHGCA saam met Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (PHASA) dat ‘n verbod op die jag van renosters in die land nie stroping sal laat afneem nie. Hy meen dat so ‘n verbod die teenoorgestelde reaksie sal hê en dat stroping dan sal toeneem.
Die vereniging het reeds, in samewerking met Onderstepoort se Fakulteit van Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, ‘n projek van stapel gestuur om renostereienaars aan te moedig om hulle diere se DNS in die genetiese laboratorium se databasis te laat opneem.
Die projek se naam is Rhino Alive! en die databasis is die Renoster DNA Indeks-sisteem (RhODIS).
23 September 2011