
’n Staking wat verlede week begin het onder bosbouwerkers, werksaam by die Suid-Afrikaanse Bosboumaatskappy (SAFCOL), besorg verskeie boere hoofbrekens. Geen sake van brandstigting is nog aangemeld nie, maar mnr. Butch Baker, hoof van Letaba-brandbestrydingsdienste, sê hulle beveg tans drie brande wat in SAFCOL se plantasies naby Tzaneen in Limpopo voorkom.
Dié brande kom voor ten spyte van weerstoestande wat nie gunstig is vir brande nie. Baker sê baie boere en vrywilligers in die omgewing help tans om die brande te probeer beveg. “Ek is nog nie in kennis gestel van enige voorvalle van intimidasie waar stakende werkers vrywilligers probeer keer om die brande te beveg nie.”
SAFCOL moes verlede week ’n dringende interdik kry om intimidasie van vrywilligers wat brande tussen Witrivier en Sabie in Mpumalanga probeer beveg het, te voorkom. Van die stakende werkers het die vrywilligers glo geïntimideer. Bewerings is ook gemaak dat boere wie se grond aan die plantasie grens en met die brande gaan help, se plantasies as vergelding aan die brand gesteek is.
Samewerking
Mnr. Piet van Zyl, uitvoerende direkteur van York Timber in Mpumalanga, sê dit is bemoedigend om te sien hoe die gemeenskap saamwerk om die brande te keer. Hy sê dié week is alles rustig. Mnr. Kevin Kay, ’n boer van die omgewing, het vroeër aan Landbou.com gesê sowat 20 brande het verlede week in die omgewing voorgekom.
“Die voorkoms van brande vir dié tyd is hoër as gewoonlik,” aldus Van Zyl. “Ek dink wel dit is ’n groot pluimpie vir almal in die omgewing om te sien hoe almal betrokke raak en saamwerk. Dit wil my wys ons het lesse geleer uit die voorvalle in 2007 en 2008 waar brande grootskaalse skade aangerig het.”
Intussen sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA en wat naby Tzaneen boer, en van sy buurmanne maak tans dringend voorbrande om moontlike brande op hul grond te voorkom.
Onderhandelinge tussen SAFCOL en vakbonde gaan voort.