
Daar word steeds gesoek na die verdagtes wat mnr. Louis Cloete (71) en sy vrou, Ina (65), Woensdag rondom 16:20 beroof en hul plaashuis aan die brand gesteek het terwyl die egpaar steeds in die huis was.
Lt.kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê iemand het twee vreemdelinge op die plaas opgemerk. Die twee, wat op die punt was om die plaas met die boer se voertuig te verlaat, is egter gesteur en het die voertuig vol gesteelde eiendom agtergelaat.
Die polisie is na die toneel ontbied en het met hul aankoms gevind dat die plaashuis, met die boer en sy vrou steeds binne, aan die brand was. Ledwaba sê albei is onherkenbaar verbrand.
Voorlopige ondersoeke het bevind dat die verdagtes die boer en sy vrou vermoedelik aangeval en onder meer vuurwapens geroof het voor die gebuite eiendom in die voertuig gelaai is. Hulle het toe vermoedelik die huis aan die brand gesteek.
Lt.genl. Thembi Hadebe, polisiehoof in Limpopo, sê ’n taakspan bestaande uit speurders uit elke vlak van die provinsie se polisie is saamgeroep om die moordenaars op te spoor. Die gemeenskap word versoek om enige inligting wat die ondersoek kan help, met die polisie te deel.
Twee sake van moord, asook huisbraak en brandstigting word ondersoek. Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, kapt. Mashudu Lesley Muneri, by 082 469 1260, Crime Stop by 08600 10111 of hul naaste polisiekantoor kontak.
Me. Marcelle Martiz, VF Plus-leier in Limpopo en LPW, sê die moord op die Cloetes se moord bewys opnuut dat landelike gemeenskappe betrokke moet raak by hul plaaslike veiligheidsgroepe om hulself te beveilig en weerbaar te maak teen aanvalle.
“Die wreedheid waarmee plaasaanvalle en -moorde gepaard gaan, dui daarop dat blote roof nie die motief is nie en hierdie tipe misdaad as prioriteitmisdaad verklaar moet word.
“Die oomblik wanneer die politieke wil ontstaan om landelike gebiede te beveilig en behoorlike strafmaatreëls in te stel, sal daar ? drastiese afname in plaasaanvalle en -moorde wees.”
* Ledwaba het Donderdagmiddag aan Landbou.com bevestig dat twee verdagtes in ’n nedersetting tussen Levubu en Malamulele in hegtenis geneem is nadat leidrade opgevolg is. ’n Derde verdagte is nog op vrye voete.
* Die soektog na die derde verdagte duur Vrydag voort. Lees hier meer.