Die 1 647ste boer (volgens die TLU SA se statistieke van boere wat sedert 1991 vermoor is) is onlangs in Limpopo vermoor, sê dr. Dirk Hermann, adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit.
Die 78 jarige Frik-Hermann was Hermann se oom.
Luidens ‘n berig op Nuus24.com het die 68-jarige mnr. Fanie Stander, ‘n vriend van Frik Dinsdag (8 Februarie), op sy liggaam in sy huis op ‘n plaas naby Alma afgekom. Lt.-kol Ronel Otto sê dit lyk of Hermann al tussen vyf en sewe dae dood was toe sy liggaam gevind is. ‘n Moordsaak word tans deur die Polisie in Rankin’s Pass ondersoek.
Woede
Dirk sê dit maak hom woedend om te weet sy oom het deel van die land se moordstatistiek geword. “Daar gaan geen optogte in die strate wees nie, hy is maar net die nommer voor 1 648. Dit maak my woedend. Ek doen ’n beroep op mense om meer aggressief teenoor dié misdade te wees en meer aktivisties op te tree, want as jy jou oë uitvee, is dit jou oom Frik wat jy moet groet.”
Vasgebind
Stander sê hy het ‘n verskriklike stank buite die huis geruik. Die voordeur het oopgestaan, en toe hy die huis binnegegaan het, het hy iemand in die volgende vertrek sien lê. Frik se hande was glo agter sy rug vasgebind.
Volgens Dirk kon die oorsaak van Frik se dood nog nie bepaal word nie aangesien die liggaam reeds erg ontbind het. Otto sê dit is nog nie duidelik wat uit die huis gesteel is nie.
9 Februarie 2011