
’n Geskiedkundige Bien Donné Agri Cape Week (BDACW) word vir vanjaar beplan. Die fokus van vanjaar se ekspo is "Kampioene in Landbou". Dit is ook die 70ste jaar wat die landbounavorsingsresultate van die Landbounavorsingsraad (LNR) tydens die ekspo uitgestal word.
Luidens ’n verklaring meen Agri Megaweek, die organiseerders, dit is tyd dat die nasionale en Wes-Kaapse rolspelers in die landboubedryf – wat tot die land se voedselmandjie bydra – erkenning daarvoor moet geniet.
Die ekspo word vanjaar by die LNR se Bien Donné-navorsingsplaas op Simondium, op die R45 tussen die Paarl en Franschhoek, aangebied. Dit sal van 9 tot 12 April plaasvind.
Navorsingshoogtepunte
Navorsingshoogtepunte van die LNR sal tydens die ekspo te sien wees. “Terwyl die ekspo op die wyn-, vrugte- en groentebedrywe sal fokus, word alle waardeketting-rolspelers en produksie-, verwerking-, verpakking- en bemarkingsrolspelers genooi om te registreer vir stalletjies en deelname,” lui ’n verklaring.
“Elke suksesvolle landbou-onderneming word in sy veld van kundigheid as 'n kampioen van die bedryf beskou, en ons sal almal graag daar wil sien”, sê mnr. Orton King, groep uitvoerende direkteur van AMG.
Spesiale uitstallings sal op die wenners van sleutel-eerbewyse vir die landbou oor die afgelope 70 jaar fokus. “BDACW sal in 2014 die eerste ekspo-platform in Suid Afrika wees wat sal fokus op erkenning aan rolspelers vir hul noodsaaklike bydrae tot landbou vir voedselsekerheid en werkskepping. Ons wil graag soveel rolspelers moontlik by die ekspo sien wat hulself as die kampioene in hul veld van kundigheid kom aanbied.”
Besoek www.biendonne.com vir meer inligting.