
“Die Landbounavorsingsraad (LNR) se bewerings dat die Suid-Afrikaanse Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging (SA Stamboek) onregmatig met die LNR meeding omdat Stamboek van dié raad se inligting gebruik, is eensydig,” het dr. Pierre van Rooyen, hoofbestuurder van SA Stamboek, gesê.
Die LNR het gesê hy het rede om te glo dat SA Stamboek intellektuele eiendom met betrekking tot sy beste liniêre onsydige beramingstelsel (BLUP) bekom het én dat hy dié intellektuele eiendom gebruik het om sy eie BLUP-stelsel van stapel te stuur, wat nou in mededinging met die LNR bedryf word.
Mnr. Sipho Mokgoatlheng, woordvoerder van die LNR, het gesê die LNR het in Oktober ’n soort Anton Piller-hofbevel (’n deursoekingsbevel sonder kennisgewing) bekom.
Dit is op SA Stamboek se perseel in Bloemfontein uitgereik. Die bevel is daarop gemik om die getuienis te bewaar wat die LNR benodig om sy saak teen SA Stamboek te bewys.
Dieselfde dag het die LNR ook ’n dringende aansoek ingedien vir ’n tussentydse interdik om SA Stamboek te verbied om inbreuk te maak op die gebied van sy BLUP-stelsel.
Tydens die uitreiking van die bevel is ’n forensiese beeld gemaak van SA Stamboek se BLUP-bediener. Dié beeld is toe aan die balju vir beveiliging oorhandig.
Die partye het ooreengekom op ’n proses van ontleding van die inligting.
* Berig deur Joylene van Wyk en Johan Norval.