
Die meeste landbou-organisasies is dit eens: Grondhervorming móét plaasvind. Sowat 90% van projekte het egter misluk.
“Die hoofrede is onbekwame staatsamptenare wat nie ervaring of die vermoë het om transformasie in die landbousektor te laat werk nie,” sê dr. Theo de Jager, adjunkvoorsitter van Agri?SA.
De Jager het aan Volksblad gesê die tweede rede is beleidsverwarring. “Ons grondsakebeleid stem nie met die beleid vir transformasie ooreen nie, want hoe kan ’n mens beleggersvertroue aanwakker as jy onseker is of jy jou plaas gaan behou?”
Mnr. Coenie Davel, voorsitter van Amersfoort se boere-unie, sê boere in dié omgewing is gewillig om as mentors vir nuwelingboere op te tree. “Die manier waarop begunstigdes gekies word, is ook problematies, want ek het byvoorbeeld oulike werkers wat graag wil boer, maar hulle kom nooit in aanmerking vir projekte nie.”
Mnr. Mike Mlengana, president van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), sê volgehoue opleiding en ondersteuning skiet te kort. Hy sê nie almal is uitgeknip vir boerdery nie.
Brond: Volksblad