
Aansoeke om beslagleggings op lone móét voortaan deur ’n landdros goedgekeur word, en mag nie langer eenvoudig deur ’n hofklerk uitgereik word nie.
Hierdie bevel, wat regter Siraj Desai verlede jaar gemaak het, is onlangs in die Grondwethof bekragtig. Dit volg op ’n regsgeding wat sowat 3 1/2 jaar gelede van stapel gestuur is deur me. Wendy Appelbaum, filantroop en wynplaas-eienaar, nadat sy agtergekom het haar werknemers moet tot 80% van hul salarisse opdok weens loonbeslagleggingsbevele.
’n Loonbeslagleggingsbevel is ’n hofbevel wat ’n skuldenaar se werkgewer verplig om skuld uit sy of haar salaris te betaal.
Mnr. Clark Gardener van die finansiële-welstandsfirma Summit het destyds aan Landbouweekblad gesê loon-aftrekkings sonder hofbevele gebeur meer gereeld in die landbou as in enige ander bedryf.
Die Grondwethof het egter beslis Desai se uitspraak is nie terugwerkend van krag nie, dus geld alle loonbeslagleggingsbevele wat voor die regsgeding uitgereik is, steeds.