Lood van verbrokkelde koeëls in wild kan mense en diere vergiftig. Daar bestaan veral kommer oor die stygende getal aasvoëls wat in die jongste tyd aan loodvergiftiging gevrek het.
In ’n verklaring deur Ezemvelo Wildlewe skryf dr. Ian Rushworth, een van die onderneming se ekoloë, dat die vrektes waarskynlik toegeskryf kan word aan die stukkies lood van verbrokkelde geweerkoeëls wat die voëls ingekry het. Hy doen ’n ernstige beroep op boere en almal wat by jag betrokke is, om te verseker dele van wildkarkasse met koeëlstukke word nie in die veld gelaat waar aasvoëls dit maklik kan bykom nie.
Nuwe navorsing in Amerika wys dat mense ook ernstig geraak kan word as hulle sulke stukkies lood saam met die vleis inkry. Die gevaar wat lood vir mense inhou, is sedert die tyd van die Romeinse Ryk bekend, maar die nuutste navorsing dui daarop dat lae blootstelling daaraan, wat tot nou toe as onbeduidend afgemaak is, mense weliswaar erg kan benadeel.
Dit sluit in die verstandelike en gedragsbenadeling van kinders wat selfs al deur ongebore babas in die baarmoeder opgedoen kan word. Ouer mense se motoriese funksies kan gestrem word en dit kan aanleiding gee tot nier- en hartsiektes en kanker.
In die toetse is besmette vleis na verskillende verwerkers gebring en die verwerkte produk is aan varke gevoer. Die loodinhoud van die bloed van varke wat van die vleis gevreet het, het tot 2,3 mikrogram per desiliter gestyg binne twee dae nadat hulle dit ingekry het.
Dit was aansienlik hoër as die 0,6 mikrogram per desiliter van die varke wat skoon wildvleis gekry het. “Ons vertolk dié uitslae as ’n duidelike bewys dat mense ook loodvergiftiging op dié manier kan opdoen, sê mnr. Grainger Hunt, leier van die ondersoek.
Die wond waar die koeël die dier getref het, moet deeglik met koeël en al uitgesny word en waar die dier met ’n kopskoot platgetrek is, moet die kop verwyder en versteek of begrawe word. Of die maklikste is om loodvrye koeëls te gebruik, lui die verklaring.
12 April 2011