Die Regering moet besef hy kan nie boer nie en moet dit vir die kenners los, het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, op die eerste algemene vergadering van die wêreldorganisasie vir boere (WFO) buite Stellenbosch gesê.
Sy het dit duidelik gemaak dat die Regering nie beleid kan vorm sonder dat bydraes eers van die boere gekry word nie. “Ons moet ook nie net jul bydraes vra nie. Ons moet daarna luister − al stem ons nie noodwendig daarmee saam nie.”
Sy het benadruk dat haar departement se standpunt oor die groenskrif oor grondhervorming sal wees dat grondhervorming nie kan plaasvind as voedselsekerheid in die gedrang kom nie.
Vrugbare grond
’n Groot bekommernis, volgens haar, is die groot hoeveelhede vrugbare grond op die vasteland wat deur ander lande gekoop word om hulle van voedselsekerheid te verseker.
“Dit is onverantwoordelik wanneer buitelanders plaaslike grond koop, hulle hul eie mense bring om dit te bewerk en dan aanbeweeg wanneer die grond uitgeput is. Suid-Afrika is egter gelukkig dat hy wetgewing oor grond en grondhervorming het wat buitelanders keer om dieselfde hier te doen.”
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, sê dit sou wonderlik gewees het indien die minister se woorde wel die situasie in die landbou weerspieël het. “Ons het ’n Regering wat baie meer ideologies gedrewe is.”
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê daar is ’n ou gevestigde beginsel dat die “besigheid van besigheid is om besigheid te doen” en die “besigheid van die Regering is om te regeer”.
19 September 2011