
Die Regering en die politieke leierskap moet begin verstaan dat mense nie sake-ondernemings begin om mense in diens te neem nie.
Mense word aangestel juis omdat diegene wat ’n sake-onderneming begin, geld wil maak, sê mnr. Herman Mashaba, voorsitter van die Vryemarkstigting.
Die Regering het verlede jaar ’n nuwe minimumloon van R105 per dag vir plaaswerkers ingestel wat op 1 Maart met 6,4% tot R111,72 per dag vir ’n werksdag van nege uur sal styg. Die loonverhoging het na raming tot sowat 2 000 werksverliese gelei.
Mashaba het gesê die loonverhogings is nie gekoppel aan ’n toename in produktiwiteit nie, wat op die oud end slegte nuus vir die ongeskoolde arbeider is.
Hy het gesê werkgewers kan slegs mense in diens neem na gelang van wat hulle kan bekostig en nie wat die Regering of iemand anders aan hulle voorskryf nie. “As mense sou werk kry omdat ander goeie harte het, glo ek dat emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu die grootste werkgewer in die wêreld sou gewees het.”
Britse erfenis
Mnr. Moeletsi Mbeki, politieke ontleder van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Betrekkinge, het gesê die land sal maniere moet vind om ontslae te raak van sy Britse erfenis van hoe die ekonomie gedryf word. “Die Amerikaanse Industriële Revolusie kon nie begin totdat die Amerikaners van slawerny ontslae geraak het en opgehou het om sy rou materiaal aan die Britse ekonomie uit te voer nie.
“Ons is steeds in hierdie soort ekonomie. Die groot vraag is hoe gaan ons Suid-Afrika transformeer van die Britse era waarin ons steeds vasgevang is na een waar ons ’n ware industriële ekonomie het,” het Mbeki gesê.
Volgens Mbeki kan nie gesê word dat die land ekonomies goed vaar terwyl ’n derde van sy bevolking werkloos is nie.