
Dit breek sy hart om te sien hoe baie grond wat aan swart boere terugbesorg is as deel van die restitusieproses, nou niks meer produseer nie, sê dr. Mathews Phosa, voormalige premier van Mpumalanga.
"Ons grondhervormingsproses is besig om voedselsekuriteit te ondermyn," waarsku hy.
Phosa, wat langs die Glen Alpine-dam in Limpopo met Bonsmaras boer, het op Agri Limpopo se kongres by in Modimolle (Nylstroom) 'n beroep op boere gedoen om te help met grondhervorming en die bemagtiging van swart boere. "Dit kan nie weggewens word nie. Ons moet eerder dr. Anton Rupert se raad volg en die emosies oor grond laat staan en die sakegeleenthede daar rondom aangryp."
Geheim vir sukses
Phosa sê hy glo die geheim vir sukses in grondhervorming en bemagtiging van opkomende boere lê in vennootskappe, iets waartoe Agri Limpopo hom al 'n geruime tyd beywer.
Dr. Theo de Jager van Agri Limpopo se transformasiekomitee het ook by die kongres verduidelik hoe Agri Limpopo klein boere wil help om koöperasies op die been te bring sodat hulle toerusting en hulpbronne kan deel en voordeel kan put uit kollektiewe koopkrag en bemarking. "Nie net swart klein boere nie, maar alle kleinboere," sê hy.
Draai nie doekies om nie
Hoewel hy nie doekies omdraai oor die uitdagings wat die magstryd binne die regerende party teweegbring nie, sê Phosa boere moet fokus op die geleenthede wat die land se grondhervorming- en bemagtigingsbeleid meebring, eerder as om die Regering as 'n bedreiging te sien.
Phosa sê die onlangse munisipale verkiesingsuitslae wys dat veelparty demokrasie in Suid-Afrika werk. Hy meen die landbou moet 'n sleutelrol speel in die ontwikkeling van landelike ekonomieë. "Ons is almal hier gebore en gewortel. Dit is tyd om hande te vat en ons kennis met mekaar te deel," het hy in Afrikaans aan kongresgangers gesê.