Die gehalte van Loskopdam se water gaan vinnig agteruit met bakterieë wat heeltyd op die oppervlak sigbaar is, sê die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR). Luidens ’n berig op News24.com is dié aankondiging op Woensdag (30 Maart) in ’n verklaring gemaak.
Dié dam word deur die Olifantsrivier gevoed, wat deur die Loskop-besproeiingsraad (LBR) as ’n hoogs besoedelde rivier bestempel word. Die LBR-distrik voorsien water aan 16 000 ha landbougrond deur middel van kanale met ’n lengte van altesame 550 km.
Dr. Paul Oberholster, ’n limnoloog (wetenskaplike wat in varswater spesialiseer) sê: “Die dam het sedert 2008 reg deur die jaar bloeisels van cyano-bakterieë sigbaar op die wateroppervlak.” Die alge, wat deur hoë vlakke van voedingstowwe veroorsaak word, is tot 15 m lank en dit dryf in besproeiingskanale af wat beheerhekke en sproeiers blokkeer.
Nog geen tekens op gewasse
Me. Tendani Tsedu, woordvoerder vir die WNNR, sê die alge is nog nie in besproeiingswater of op gewasse gevind nie. Dié dam is in 1938 gebou om die landbousektor van water te voorsien, wat ’n uitvoerbedryf van R1 miljard per jaar na die Europese Unie ondersteun.
“ ’n Twee jaar lange studie van die gehalte van besproeiingswater ... in die Groblersdal-omgewing het baie lae vlakke van E.coli en geen vlakke van ander siekte-veroorsakende bakterië gewys nie,” aldus Tsedu. ’n Ondersoekspan wat deur die LBR gefinansier word, het vars produkte wat in die gebied verbou word – wat mielies, sitrus, druiwe en koring insluit – nagegaan vir die voorkoms van bakterieë.
31 Maart 2011
Bron: News24.com