Foto ter illustrasie. Foto: Verskaf
Twee brandbestryders is beseer terwyl hulle besig was om ’n brand, wat gistermiddag op die Lourensford-landgoed in Somerset-Wes ontstaan het, te bestry.
Volgens die Kaapse
Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste is grondspanne in die
vroeë oggendure na die landgoed ontplooi.
Die brand het in die ou
denneplantasie op die landgoed ontstaan. Dit is deur ’n kombinasie van gemengde
plantegroei, buitengewoon hoë temperature en droë weer aangevuur. Die Stad
Kaapstad se brand- en reddingsdiens is ontplooi, maar die brand het na die hoë,
ontoeganklike gedeeltes van die landgoed versprei. Dit het ook na die
Grootnek-omgewing tot in die Kaapse Wynland versprei.
KWDM se branddienste is sedert
gistermiddag laat in gereedheid geplaas. Gedurende die vroeë oggendure is
grondspanne wat uit sowat 40 lede bestaan, ontplooi. Volgens die Stad Kaapstad
sal lugsteun vanoggend oor die Grootnek-gebied ontplooi word.
Me. Jo-Anne Otto, woordvoerder
vir die KWDM, sê die distriksmunisipaliteit wens die beseerde brandbestryders
spoedige beterskap toe. “Hierdie voorval beklemtoon die gevare wat ons
brandbestryders en ander noodreaksiepersoneel in die gesig staar elke keer as hulle
vir diens aanmeld.”
Mnr. JC Serfontein,
produkspesialis by Husqvarna Suid-Afrika, sê elke seisoen word meer ekstreem
weens klimaatsverandering. Volgens hom het veldbrande verlede jaar verliese van
R3,5 miljard veroorsaak. Dit sluit die koste om brande te bestry en
lewensverlies uit.
“Veldbrande is ’n noodsaaklike
gedeelte van die natuur se lewensiklus, maar as dit nie beheer word nie of te
dikwels plaasvind, vernietig dit woude, landbougrond en huise. Dit kan ook
ernstige skade aan biodiversiteit rig.”
Hy gee die volgende raad om
brandskade te vermy:
Vind by jou plaaslike brandbeskermingsvereniging uit
wat volgens wet van jou verwag word om brande te voorkom. Werk saam met
jou bure en die vereniging om brandbeheer te koördineer.Ontwikkel ’n brandnoodplan wat veral brandstof, die
weer en tipografie van jou gebied in ag neem. Sluit almal op jou plaas by
die plan in en hersien dit jaarliks. Die plan kan onder meer insluit om
gras kort te hou en ’n veilige hawe vir jou diere asook toegangs- en
uitgangsroetes te identifiseer.Verseker dat jy die nodige toerusting het en dat dié
toerusting in stand gehou word. Maak seker dat die toerusting te alle tye
gereed vir gebruik is. Lei jou span op om die toerusting te gebruik en hou
gereeld oefeninge om te verseker dat almal weet wat om te doen.Onderhou jou brandbane en werk saam met jou bure om
te verseker dat julle voorbereid is.Kyk na jou eiendom en identifiseer areas waar ’n
vuur kan ontstaan. Byvoorbeeld, grens jou plaas aan ’n pad waar sigarette
vanuit ’n voertuig gegooi kan word? Bekyk ook jou toerusting goed.
Serfontein sê elke seisoen gaan gemiddeld ses stropers ter waarde van
sowat R6 miljoen tot niet weens kaf wat in warm onderdele versamel.Vermy die gebruik van trekkers, sweismasjiene en
ander elektriese of brandstofaangedrewe toerusting op warm, winderige dae.
Indien dit nie anders kan nie, maak seker dat die masjinerie in ’n goeie
toestand is en dat toerusting vir die bestryding van ’n brand byderhand
is.