"Ek's geskok oor die skuif", het dr. Lourie Bosman, DA-LP, gereageer oor sy skuif weg van die portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye.
Bosman is een van heelwat kenners op hul vakgebied wat die DA spesiaal in 2009 ingebring het om sy stem en geloofwaardigheid in die komitees te versterk. Die party se leier in die Parlement, me. Lindiwe Mazibuko, wat nie in 2009 in 'n leierskapposisie was nie, het egter nou haar eie skadukabinet gekies.
Bosman het in 'n onderhoud met Landbouweekblad sy skok geopper oor die manier en rede waarom hy van die landbou weggeskuif is. Bosman sal nou die adjunkwoordvoerder vir hoër onderwys en opleiding wees.
Hy meen die party maak 'n groot fout om nie by sy beleid te bly om kundige mense in spesifieke portefeuljes te ontplooi nie. Mazibuko sal uiteindelik verantwoordelikheid moet aanvaar as daar swakker presteer word weens haar fout, meen hy.
Mazibuko het uitgewys dat swak prestasie een van die redes is hoekom van die kundiges verskuif is. Dit verduidelik egter nie Bosman se skuif nie, want hy het die afgelope twee jaar 'n uitmuntende rapport gekry.
Hy het ook einde verlede jaar baie mediablootstelling gekry toe hy me. Tina Joemat-Pettersson, Minister vir Landbou, Bosbou en Visserye, oor haar luukse hotelverblyf aangevat het. Die kwessie word deur die Openbare Beskermer ondersoek.
"Ek het 20 jaar se kennis hoe die internasionale en die Sadec-mark werk. Jy koop nie sulke kundigheid nie."
Hy het ook uitgewys dat Mazibuko nooit met hom oor die skuif gekonsulteer het nie. Bosman het 'n brief geskryf om haar van sy ongelukkigheid in te lig, omdat sy nie sy oproepe beantwoord nie.
Hy meen duisende boere het juis vir die party in die afgelope twee verkiesings gestem omdat hulle weet daar is 'n kenner wat hulle belange op hoëvlak behartig. Bosman het reeds talle oproepe van boere gekry wat wil weet hoe die land se landbou nou behoorlik verteenwoordig gaan word.
2 Februarie 2012