
Plante het as't ware 'n polsslag en 'n mens kan dit 'n “plantslag” noem, sê die Israelse landboutegniese maatskappy Phytech.
Die onderneming het sy nuwe PlantBeat™-diens by 'n landbou-inligtingskonferensie in Missouri, Amerika, bekend gestel.
Phytech sê in 'n verklaring 'n goeie begrip van plante se “plantslag” is die sleutel tot gewasproduksie met 'n hoë opbrengs. Die PlantBeat-diens behels deurlopende monitering van plante se groeikoers en krimping asook grondvog- en mikroklimaatstoestande. Die data word versamel en dan met draadlose tegnologie na 'n globale netwerk van veilige bedieners gestuur.
Die plant-, grond- en klimaatdata word ontleed om die spesifieke plant se stresdrempels te bepaal. Tydige waarskuwings word dan regstreeks na 'n mobiele toestel gestuur, soos bepaal deur die boerdery.
Phytech sê boere kan hierdie insigte gebruik om presisiebesluite oor besproeiing te neem voordat plantstresvlakke 'n punt bereik waar opbrengste benadeel word.
Mnr. Itay Mayer van Phytech sê deur na 'n plant se behoeftes te “luister” kan 'n voorspellende model geproduseer word vir presisie-besluitneming.
Phytech sê sy diens beteken boere het as't ware 'n agronomiese kenner in die hand of in die sak wat elke uur van die dag beskikbaar is. Die PlantBeat-diens sal eers gerig wees op die amandel-, katoen-, sitrus-, tamatie- en druiwebedrywe en soos wat dit gevestig raak in die Amerikaanse landbou na ander gewasse uitgebrei word.