
’n Tiener van Laufen in die suide van Duitsland het ’n koei geleer om soos ’n skouperd te spring omdat haar ouers nie vir haar ’n perd wou koop nie. Luidens ’n berig op news.com.au het die 15-jarige Regina Mayer geweier om haar droom om aan perdespringsport deel te neem op te gee omdat haar ouers nie vir haar ’n perd wou koop nie.
Sy het glo reguit na die melkstal se kamp geloop en een van die koeie in die kamp opgesaal. Sy het Luna vir maande lank opgelei en kan haar nou met gemak ry.
‘Sy dink sy’s ’n perd’
Regina het Luna kort ná haar geboorte twee jaar gelede begin oplei. Hulle het aanvanklik op lang ritte deur die veld gegaan en Regina het Luna later geleer om hekspronge te doen oor bierkratte en geverfde houtpale.
Luna verstaan die woorde “gaan”, “staan” en “gallop”. Regina sê: “Sy dink sy is ’n perd.”
“As sy iets wil doen, doen sy dit, as sy nie wil nie, doen sy dit nie”, vertel Regina van Luna. “Sy is baie hardkoppig, maar sy kan ook regtig oulik wees.”
Me. Anne Wiltafsky, ’n instruktrise wat koeie oplei naby Zurich in Switserland, sê koeie is in die verlede gereeld gebruik om op te ry. “Jonges kan ook goed spring.” Kyk hier na `n video van Luna.
Bron: news.com.au
6 April 2011