
Die Vrystaatse landbou-LUR, Mamiki Qabathe, het afgevaardigdes op Vrystaat Landbou se jaarkongres in Bloemfontein warm onder die kraag gehad met 'n boel beskuldigings, van die geykte een dat hulle plaaswerkers onwettig van hul plase afsit, tot 'n sydelingse veeg na “afwesige grondeienaars” wat glo vertroue skend.
Die koppe het by tye geskud en ander kere is kragwoorde onderlangs gebrom toe Qabathe kaalvuis ingeklim het oor wat volgens haar die redes is waarom daar wantroue tussen die landbou en die Regering is.
“Nee, ek verstaan, die waarheid maak seer. Julle kan lag, maar dit is niks om oor grappies te maak nie,” het sy gesê toe party in die gehoor hardop gelag het nadat sy gesê het wit boere het sedertdien 4% van die 12% grond wat al in grondhervorming oorgedra is, teruggekoop.
Hierby het sy 'n aanhaling van George Orwell, skrywer van die roman Animal Farm, oor “revolusionêre waarheid” bygesleep. (“During times of universal deceit, telling the truth becomes a revolutionary act,” het Orwell gesê.)
Qabathe het boere ook daarvan beskuldig dat hulle grondhervorming belemmer deur grondpryse onnodig te stook sodra die Regering 'n plaas wil koop om swart boere op te vestig. “Dit gebeur. Ons het dit getoets,” het sy gesê.
Voorts het sy klaarblyklik wit Suid-Afrikaners in die algemeen daarvan beskuldig dat hulle hulself en hul kinders van die res van Suid-Afrikaners afsonder. “Sodra ons nader kom, trek julle weg,” het sy gesê.
Sy het die Bloemfonteinse spogskole Eunice en Grey genoem, waaruit wit ouers, volgens haar, glo hul kinders gehaal het nadat swart ouers sedert 1994 al hoe meer hul kinders by dié skole ingeskryf het. Hierdie wit ouers ontsê hul kinders integrasie, het Qabathe gesê.
Dieselfde het glo in haar woonbuurt en kerk, 'n Metodiste-gemeente op Virginia, gebeur. Sedert swart mense daar ingetrek en aan die gemeente begin behoort het, het die wit inwoners en gemeentelede die pad gevat, beweer Qabathe.
Die agteruitgang van die Glen-landboukollege buite Bloemfontein, waar verlede jaar minder as 20 studente hul diplomas ontvang het, het Qabathe ook voor wit ouers se deur gelê. “Hoekom neem julle jul kinders weg?” het sy die boere-afgevaardigdes gevra.
Sy het gewaarsku dat ekonomiese groei nie sonder ekonomiese transformasie sal gebeur nie. “Ons sal nooit ekonomiese groei sonder ekonomiese transformasie toelaat nie. Dit sal nie gebeur nie,” was haar woorde.
Uiteindelik het sy met die versekering afgesluit dat haar party, die ANC, “nooit Suid-Afrika in hongersnood sal indryf nie”.
En heel laaste het sy 'n beroep om samewerking gedoen: “Ons het julle meer nodig as wat julle ooit kan dink. Ons is saam op hierdie skip; as hy sink gaan ons almal onder.”