
Uiteindelik het 'n onwaarskynlike "redder" toegetree om mynmaatskappy se opmars op landbougrond te keer.
Me. Yvonne “Pinky” Phosa, Mpumalanga se LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, het mynmaatskappye gestuit met haar verklaring van meer as 73 000 ha tot “bewaarde omgewings”, sê mnr. Julius Kleinhans, hoof van omgewingsake by AfriForum.
Hy meen hierdie besluit bring hoop vir die provinsie se natuurlike erfenis.
AfriForum beskou bewaarde gebiede as “een van die enigste behoorlike instrumente wat gemeenskappe kan gebruik om hul eiendom en sensitiewe omgewing teen die onverantwoordelike optrede van die Departement van Minerale Hulpbronne te beskerm”.
Volhoubare ontwikkeling
Kleynhans sê Phosa stel ’n voorbeeld aan ander LUR'e. “Hoewel ekonomiese ontwikkeling een van die dryfvere in besluitneming is, moet volhoubare ontwikkeling die eindresultaat wees. Sekere gebiede móét bewaar word en natuurlik moet daardie gebiede verantwoordelik gebruik word,” het Kleynhans gesê.
Die gebiede wat ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet op Bewaarde Gebiede van 2003 tot bewaarde gebiede verklaar is, sluit in:
Die Chrissiesmeer Bewaarde Gebied (byna 6 000 ha).
Die Mabola Bewaarde Gebied (8 500 ha).
Die bestaande Kwamandlangampisi Bewaarde Gebied wat tot meer as 3 000 ha beslaan.
Die Tafelkop-natuurreservaat.
Die Mndawe-trust Bewaarde Gebied (meer as 825 ha).
Twee ministers moet instem
“Die skepping van bewaarde gebiede beteken geen kommersiële prospektering en mynbedrywighede mag in hierdie gebiede plaasvind sonder die skriftelike toestemming van beide die Ministers van Omgewingsake én van Minerale Hulpbronne nie.
“En soos met alle natuurreservate, is kommersiële prospektering en mynaktiwiteite in die Tafelkop-natuurreservaat verbode,” het Kleynhans gesê.