
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, het tydens die internasionale varsproduktevereniging (IFPA) se Suider-Afrika-konferensie gesê die landbou kan ’n rol speel om Suid-Afrika se groeivooruitsigte, wat tans maar power lyk, te verbeter.
“Suid-Afrika se landbou het sedert 1994 meer as verdubbel in waarde en ook in volumes was daar enorme groei, veral te danke aan vee en vars produkte. Daar is egter dinge in Suid-Afrika wat ons in die oë moet kyk, soos dat ons ’n dualistiese landboubedryf is en dat baie swart boere nie in die groei deel nie.”
Dit kan stabiliteit in die bedryf benadeel en word ook nie gunstig aanvaar deur die wetmakers nie, het hy gesê. “Ons moet hieroor dink en ’n plan maak. Dit moenie ’n sero-som-spel wees, waar jy by ’n wit boer vat en vir ’n swart boer gee nie, maar ons moet ’n manier vind om die koek te vergroot sodat almal kan deelneem in die ekonomie.”
Sihlobo het gesê daar was reeds verskeie onsuksesvolle pogings deur die regering om die bedryf te integreer.
“Die inhoud van al die planne stem ooreen, maar die groot tekortkoming was die toepassing, monitor en evaluasie. Die regering se reakse op mislukking was om net nog planne te maak pleks van om te gaan kyk na dit wat nie werk nie.”
Sy voorstel was om te kyk waar grond beskikbaar is, sodat swart boere suksesvol daarop gevestig kan word.
“Dis onakkuraat om te sê niks word gedoen aan grondhervorming nie, maar dis terselfdertyd verkeerd om die vooruitgang te oordryf. Ons syfers wys ons is baie naby aan die teiken om 30% grond te transformeer.
“Dis nie die private sektor wat misluk nie, maar die regering, want baie van die grond wat deur die staat gekoop is, se eiendomsregte is nog nie ten volle oorgedra nie. Op van daardie plase gebeur daar niks nie. As ons die koek wil laat groei, moet ons uitvind waar daardie hektare is, wat daar gebeur en hoe ons die regte begunstigdes kan kry om seker te maak hulle help om nie net om die koek groter te maak nie, maar ook Suid-Afrika se groeivooruitsigte te verbeter.”