
Blykbaar is die Rothschilds die rykste familie in die geskiedenis van die mensdom. Hoewel die oorsprong van dié familie se geld in bankwese is, het hulle hul groot fortuin in 1815 gemaak met die Slag van Waterloo. Hierdie veldslag is nie in Brittanje nie, maar op die Europese vasteland beslis. Perde- en windkrag was top-tegnologie wat die verspreiding van inligting betref.
Die algemene opvatting, ook onder die Engelse, was dat Napoleon se Franse weermag hierdie veldslag sou wen, wat dan ook in die prys van Britse staatseffekte weerspie?l is. Nathan Rothschild, een van die oorspronklike familielede, het ‘n netwerk van agente en koeriers opgestel wat nuus oor die oorlog so gou as moontlik by hom moes kry.
As gevolg hiervan het Nathan lank voor almal in Londen geweet dat die Hertog van Wellington vir Napoleon verslaan het. Hy het álle Engelse staatseffekte wat hy in die hande kon kry, teen rekord lae pryse gekoop. Nadat die goeie nuus (slegte nuus vir Frankryk) van die oorwinning die Engelse hoofstad bereik het, het hul staatseffekte die hoogte ingeskiet, met Nathan Rothschild wat sekelstert rondloop!
Tydigheid van inligting
Die belangrikheid van inligting in besigheid word gedurig beklemtoon, maar dit is die tydigheid van inligting wat eintlik van belang is. Hoe raak dit rolspelers in die plaaslike mieliebedryf? Gedurende 2016, met een van die ergste droogtes nog, moes wit mielies vir die eerste keer op groot skaal ingevoer word. Die algemene opvatting was dat wit mielies in ander dele van die wêreld eintlik onbekombaar was. Wyd gepubliseerde pryse vir internasionale wit mielies bestaan nie en plaaslike witmielies het in Februarie 2016 teen heelwat meer as R5000/ton verhandel.
Die eerste witmielie-invoere is drie maande later, in Mei 2016, deur SAGIS gerapporteer. Hierna het dit met verloop van tyd al hoe duideliker geword dat wit mielies vir heelwat goedkoper as R5000/ton ingevoer kan word. Internasionale graanhandelaars het breed geglimlag, met ander markdeelnemers, maar veral produsente, wat aan die kortste ent getrek het.
Hoekom? Die internasionale graanhandelaars het tydig, maande vóór die res, die regte, relevante inligting gehad. Was hierdie handelaars skelm of het hulle re?ls oortree? Glad nie, hulle gebruik net die spelreëls, soos die staat voorskryf, tot hulle voordeel.
Hoe werk dit?
Hoe werk in- en uitvoer-rapportering in hierdie stadium? Slegs fisiese graan in- en uitvoere, met ander woorde, eers wanneer ‘n skip of vragmotor deur ‘n landsgrens gaan, word weekliks deur SAGIS gerapporteer.
Hoe kan hierdie werkswyse verander word? Daar is ‘n tydsverloop van weke (selfs maande) tussen die sluit van die transaksie en die fisiese in- of uitvoer daarvan. In Amerika word handelaars verplig om uitvoer-transaksies van meer as 200 000 ton binne een dag te rapporteer, terwyl kleiner transaksies weekliks aangemeld moet word.
Graan SA het gedurende Maart vanjaar by die Departement van Landbou aansoek gedoen om die huidige stelsel só te wysig dat graan in- of uitvoer-transaksies direk ná die sluiting daarvan gerapporteer word. Tot dusver is daar nog geen verandering nie.
Koring uit die EU
Koring wat na Suid-Afrika toe ingevoer word, is aan ‘n tarief onderworpe. Ingevolge ‘n 2016-ooreenkoms tussen die Suider-Afrikaanse Doeane-Unie en die Europese Unie, kan ‘n sekere hoeveelheid koring vanaf die EU jaarliks tariefvry ingevoer word. Hoewel sleg vir koringprodusente, kan geredeneer word dat dit darem die verbruiker se brood goedkoper maak.
Helaas help dit ook nie die verbruiker nie, want internasionale graanhandelaars het weer toegeslaan. Volgens Volksblad van 30 Junie 2017 het twee multinasionale graanhandelaars na bewering hierdie voordeel van R400 miljoen tot R450 miljoen vir hulself opgeraap, in plaas daarvan dat dit die mense van Suid-Afrika bevoordeel.
Wat het hier gebeur? Het plaaslike meulenaars geslaap, of was dit halfgebakte, ondeurdagte regulasies van die staat wat ‘n lekker skuiwergat vir hierdie handelaars geskep het? Dit sal interessant wees as dié manne by die naam genoem kan word.
Verander dit vinnig?
Dit is van uiterste belang dat die tydige rapportering van in- en uitvoere so spoedig moontlik verpligtend moet wees, aangesien dieselfde situasie as verlede jaar weer op pad is.
Mielies is tans spotgoedkoop, omdat daar ‘n ooraanbod is. Een van die belangrikste faktore wat die oorskot na normaal (of selfs ‘n terkort) kan verander, is uitvoere.
Soos wat sake nou staan, gaan uitvoerders, oftewel internasionale graanhandelaars, weer die binnebaan hê ten opsigte van hierdie syfers. Hulle gaan met ander woorde lank voor die res van die bedryf weet of die mielieprys met ten minste R500/ton gaan styg.
Dis lekker om in hierdie tye ‘n Nathan Rothschild in Suid-Afrika te wees!
* Johann Strauss is 'n markontleder